http://www.netwerk24.com/nuus/2015-0...gewond-om-lewe

Video: 17 keer met mes gesteek – man veg gewond om lewe

Deur Hanti Otto Donderdag 23 April 2015 08:55




Johan Bester probeer met sy verbinde hande in sy hospitaalbed beduie hoe hy teen twee rowers baklei het wat hom 17 keer met ’n mes gesteek het. Foto: Theana Breugem



17 steekwonde het Johan Bester nie gekeer om teen twee aanvallers te veg nie.
Toe hulle egter ’n gordel om sy keel styf trek, het hy maar eerder gaan sit sodat hulle ophou wurg.
“En ek wou net ’n R2-ysie langs die pad koop, want dit was warm,” glimlag die 22-jarige Bester skeef uit sy hospitaalbed.
Dit was eers toe die dokter Dinsdagaand sy wonde in die Mediclinic Brits skoonmaak en toewerk dat Bester besef het hoeveel keer hy met ’n mes bygedam is. Sy een hand moes Woensdagoggend ook geopereer word. Die meeste wonde is in sy hande soos hy terugbaklei het.
“Ek het tydens die aanval besef ek is gesteek, maar nie dat dit so baie keer was nie.”
Die aanvallers het die bloed en vingerafdrukke van sy pistool en bakkie gevee voordat hulle met R30 en Bester se selfoon weg is.
Bester, van Hartbeespoort, het Dinsdag omstreeks 16:00 by die groot Alfa-kruising in Brits gestop.
Hy was op pad om van sy pa se werkers op te laai.
“My venster was afgedraai, want ek wou ’n ysie by die man by die kruising koop. Ek het gedraai om geld te kry. Die volgende oomblik is die bakkie afgesit. Twee mans met maskers het die deur oopgesluit en my uitgeruk.
“Ons het tot langs die pad, weg van die bakkie af, gestoei. As ek geweet het hulle soek net geld, het ek dalk nie so hard baklei nie, maar hulle het my pistool, wat aan my was, gegryp,” het Bester vertel.
Een van die aanvallers het die wapen in die bakkie gegooi. Bester het probeer loskom om by sy pistool uit te kom.
“Iemand het my belt afgeruk en om my keel gesit. Toe die belt styf trek, het ek gaan sit,” het hy vertel.
’n Rower het met die mes agter hom bly staan terwyl die ander een die bakkie deurgesnuffel het.
Hy het geld uit Bester se beursie gehaal, die beursie teruggesit, die pistool afgevee en toe ook die bloed aan die bakkie wat van die pad sigbaar was.
Nadat hulle weg is, het Bester verder na die werkers gery.
“Hoewel ek tydens die aanval maar net gehoop het ek oorleef dit, het ek regtig nie besef hoe erg ek gesteek is nie. My klere het die meeste van die bloed geabsorbeer.
“Daarby het ek ’n verantwoordelikheid teenoor die werkers gehad wat staan en wag het.”
Sy pa se voorman het die erns van die aanval besef toe Bester by hulle stilhou en die jong man se pa gebel. Dié het met hom hospitaal toe gejaag.
Marna Jansen van Nieuwenhuizen, sy vriendin, kon by Beeld se besoek nie haar trane keer nie.
“Toe Johan se ma my Dinsdagaand bel en sê ek moet klere vir hom gryp en kom, het ek geweet iets is fout. Ek was so bang hy gaan dood,” het sy gesnik.