Page 1 of 23 1 2 3 11 ... LastLast
Results 1 to 10 of 224
  1. #1
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    54
    Posts
    897

    Default Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    I've read the book shortly after it appeared, and was quite intrigued with it.

    It is a journey, back to Angola, and to the battlefields they fought on as young men..
    Louis Bothma, the author, was a young conscript lieutenant in the famed 32Bn.

    I share this with his permission.

    Most of it is written in Afrikaans, but as books of this nature go, it serves as a catalyst to attract more and more information on the events described.
    Much of the further information (some of it comments on Facebook) is written in English.

    I'll try to update this on a daily basis.



    ANDERKANT CUITO - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog.
    Ry elke dag 'n entjie saam...

    Episode 1.

    Die son gly agter ‘n paar yl wolkies op die horison weg. Weerskante van die grondpaadjie wieg droë grashalms in die windjie. Nóg ‘n dag wat die lentereën weggebly het. Dis reeds Oktober. Dis droog op De Wildt, naby Brits.

    Die paadjie lei ons tussen bome deur na ‘n boskroeg. Die meeste van die manne is al daar; staan bier in die hand en kyk wie stilhou.

    Ons is laat – ek, Jaap Steyn en die Burger-broers, Rudolph en Camille. Maar dit maak nie saak nie. Ons is dáár, gereed vir die toer na Angola.

    Ek herken Gert Minnaar, ‘n Ses-Een-Meg (61Meg) veteraan wat die toer help reël het. En daar staan Kenneth Schwartz! Bles en rond. Ons het mekaar 17 jaar gelede op Pomfret gesien, die dag toe 32 Bataljon ontbind is. “Blackie, jou bliksem!” Ons val mekaar om die lyf.
    Ek skud op die ry af hande met die ander: Mike Beyl, Deon Joubert, Graham Dixon, John McMahon... Die meeste is 61 Meg-veterane met swart kêpse op. Daar is ook ‘n filmmaker onder die lot, Efpé Senekal. En ‘n ou van Rapport, Deon Lamprecht.

    “Dag generaal,” sê iemand skuins agter my.

    “Vergeet die generaal. Ek is Roland,” sê ‘n lang skraal kêrel met ‘n gryskop.

    Roland de Vries. Ek het al ‘n keer of wat met hom gekorrespondeer, vlugtig in 1977 tydens basiese opleiding by 1 SAI gesien, maar nooit ontmoet nie. Sy boek, Mobiele Oorlogvoering, staan op my rak. Dit is ‘n geskenk van Cassie Schoeman, ‘n 61 Meg-legende wat sy voortande sou gee om saam op toer te gaan. Maar Cassie se rug keil hom op.

    Roland moet iets in die sestig wees? Lyk deksels goed vir sy jare. Hy is vriendelik en kom ontspanne voor. Maar ek wonder tog hoe ‘n man van sy statuur met ons gewone outjies oor die weg gaan kom op hierdie lang toer?

    Gert Minnaar heet almal welkom en kondig aan dat hy nie meer die toer kan meemaak nie. Maar hy sal kyk wat hy kan doen. Dalk opvlieg tot in Windhoek en daar by ons aansluit? Ydele hoop.

    ‘n Groot kêrel met ‘n STEM staan nader. ‘n Ou sammajoor?
    “Ek is Andre Bezuidenhout. Oom Koos Moorcroft, die toergids, wag vir julle in Windhoek. Dit is my verantwoordelikheid om julle veilig tot daar te neem. Daarna kom ek terug. Môreoggend halfvyf rý ons. Ek wag vir niemand nie.”

    Ons kan kwalik ons opgewondenheid verberg. Hoe vroeër, hoe beter.
    Die kroeg maak toe en ons beweeg terug met die paadjie na ‘n kol tussen die bosse. ‘n Kampvuur brand en twee manne braai vleis – P.W de Wet en Ted Liebenberg. Hulle is drywers en sommer kokke ook; jonger manne wat nie in die weermag was nie. Terence Doyle, die mediese ordonnans, is ook by die vuur doenig. Hy bestuur een van die logistieke voertuie. Hy het al myne in Mosambiek en Angola gelig, praat Portugees en sal vir ons in Angola tolk.

    Nog ‘n gryskop sluit by ons aan. Krige van Heerden. Ek hoor nie mooi nie – klink of hy iets met spesmagte te doen het? Hy gaan by sy huis slaap, maar sal nie môreoggend laat wees nie.

    Ons is dus 14, plus vier bemanningslede en die toergids wat in Windhoek wag: 19 in totaal. Twee ander ouens wat daar rondhang – ‘n baardman en ‘n lange wat sy kêps agterstevoorom op sy kop het – gaan nie saam nie. Hulle het ons glo net kom afsien. Mooi man.

    Ons eet, drink ‘n laaste bier en loer na ons horlosies. Mȏre moet ons vroeg roer. Sommer nou reeds al ons bagasie pak en net ‘n slaapsak en tandeborsel uithou.
    Maar die manne wat ons kom afsien het, wil kuier. Hulle wil army-stories praat. Groot stories. Iemand ken vir Koos Krokodil Kruger. “Die krokodil het mos Koos se arm afgebyt...”
    Ek hoor, maar sê niks nie. Laat die feite liewer nie die storie bederf nie. Ek dink skielik aan die ou wat my oor Johan van der Mescht gebel het. Hy en sy uitsoekgroepie swart soldate, “wat direk onder ‘n majoor van Durban gewerk het,” was glo dié betrokke nag 50 meter van die watergat af toe SWAPO Van der Mescht gegryp het. Hulle was ‘n spesialisgroep bekend as Die Vlermuise. Gevaarliker as geelslange.

    “Ons het mos die vlermuis onder ons boots gedra. As ons so getrap het, was dit net vlermuise waar jy kyk. SWAPO het hulle natgemaak as hulle ons spore gesien het. Ons het later Van der Mescht se rugsak by Pereira de Eҫa gekry. Maar toe moes ons omdraai. Jy weet mos, daar was baie politiek betrokke,” het die kêrel voortborduur.

    ‘n Paar maande later het ek Danger Ashipala, die SWAPO wat Van der Mescht in 1978 gevang het, in Windhoek ontmoet. Ek het hom dié storie vertel. “Moenie worry nie. Die helfte van SWAPO was óók by toe ek Van der Mescht gevang het,” het Danger onder groot gelag vertel.

    Ons wil ons slaapsakke ooprol, maar die kêrel met die baard is aan die woord. Hy het by Etale-basis ‘n pantserkar gesteel en amok gemaak. “Petrus, die min-dae-bouzie, was by.” Ek verloor die draad van die storie, maar hoor hulle was iewers by ‘n gevaarlike plek met die naam Gholf Ses. En op die ou einde het die sammajoor by Etale hulle “verskriklik opgefok.”
    “Nag manne, ons gaan nou slaap.”

    Gholf Ses, wat nog lus is vir kuier, stop Mike Beyl ‘n bottel rum in die hand. “Drink dit as julle op die brug by Cuito Cuanavale staan en dink aan ons.”

    Ons kruip in en hoor hoe Gholf Ses en Kêpman hulle weg deur die bosse probeer vind. Eintlik twee goeie ouens wat se harte stront vreet omdat hulle nie kan saamgaan nie.
    “Hoe de moer gaan hulle uitkom?” wonder iemand hardop. De Wildt se hekke is al gesluit. Niemand wil gaan kyk nie. Môre gaan ‘n lang dag wees. Ons volgende kampplek is in Botswana, by Kang. Dit is 700 kilometer en ons moet nog deur die grenspos gaan.
    Ons lê op dun opvou-matrassies. Dis vreemd en ongemaklik. Dan op hierdie, dan op daardie sy. Maar uiteindelik raak die geskuifel in die slaapsakke stil.

    Iemand snork in die donker. Iewers by ‘n dammetjie raas paddas.


  2. #2
    User
    Join Date
    Feb 2011
    Location
    Tauranga, New Zealand
    Posts
    1,570

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    Very Nice.

  3. #3
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    54
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    Quote Originally Posted by Black-ops View Post
    Very Nice.
    Thanks!

    Here's the source for the above, posted in a bit of a hurry;
    https://www.facebook.com/bothmalj/po...557120944836:0

  4. #4
    User
    Join Date
    Apr 2011
    Location
    Limpopo.
    Posts
    314

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    I love reading these stories. As someone who was born a few years before 94' I very much enjoy stories from both sides, from those who were there. For better or for worse nobody can argue that we have come a long way.

  5. #5
    User
    Join Date
    Jun 2009
    Location
    Slaapstad
    Age
    55
    Posts
    1,963

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    I'm following it as well. Great reading.

    Ons kruip in en hoor hoe Gholf Ses en Kêpman hulle weg deur die bosse probeer vind. Eintlik twee goeie ouens wat se harte stront vreet omdat hulle nie kan saamgaan nie.

  6. #6
    User
    Join Date
    Feb 2010
    Location
    Centurion
    Posts
    120

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    definitely following this as well... Awesome sauce.

  7. #7
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    54
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    Kepman en Golf Ses..


    EPISODE 2: Grens toe, op die spore van die Dorslandtrekkers.


    Party voëls staan vroeër op as ander. En party hane kraai al van tweeuur in die môre af.
    Ek weet nie wat my wakker gemaak het nie, maar toe ek my oë oopmaak, draai die Briels se simpel liedjie in my kop: "As die daglig breek, op ons Bosveldplaas, en die voëltjies so in die takke raas..." Seker hulle enigste opgewekte song? En dit laat ‘n mens nou nie juis rondspring van vreugde nie.


    Stiptelik halfvyf is ons gereed om te ry. Nege van ons sit in drie rye agtermekaar in ‘n koddige 10-sitplek Land Cruiser. Die voorste ry is op dieselfde hoogte as die bestuurder, P.W. de Wet. Dave Fell, ‘n vriendelike Engelsman wat by die militêre museum in Johannesburg werk, hou P.W. geselskap in die kajuit. Die middelste en agterste rye is elkeen ‘n trappie hoër, omtrent soos ‘n klein paviljoentjie.


    Ek en die twee Burger-broers sit in die agterste ry, met Jaap Steyn, Roland de Vries en Blackie reg voor ons. Krige van Heerden, Deon Joubert en Mike Moertoe Beyl is in die eerste ry. Van ons nege hoenders kan net Deon voor in die pad sien. Die res moet sywaarts deur groot ruite, wat op en af skuif, kyk. Aan die linkerkant lig die ruite soos ‘n motor se bagasiebak op en kan elke ry se manne in- en uitklouter. Dan sleep ons ook nog ‘n Venter-waentjie – wat amper soos ‘n horse box lyk – met die bagasie.


    Die ander lede van die toergeselskap ry saam met die logistieke voertuie. Graham Dixon en John McMahon is saam met Terence, en Efpé Senekal saam met Ted. Deon Rapport het hom by Andre Bezuidenhout in sy dubbelkajuit gaan tuismaak.


    En daar gaan ons! Grens toe!


    Dit is net mooi lig toe ons by Rustenburg verbysnel. Ek sien die platinamyne en kan nie anders as om aan Eddie Viljoen van 32 Bataljon-faam te dink nie. Hy het hier op die myne gewerk voordat hy beroepsoldaat geword het; bevelvoerder van die Rustenburg-kommando gewees.


    “Manne, dit is mos ou Big Daddy se home town hierdie,” kondig ek aan.
    “Waar is Eddie deesdae?” wil Roland – wat tans in Jordanië werk – weet.
    “Daar naby Durban iewers.”


    Ek dink aan die stories wat Eddie my oor sy kinderjare vertel het. Sy pa, Oom Jurie, het vir hulle rooibostee in bottels gegooi en in die yskas gebêre. Dit was hulle koeldrank. Eddie het genoem van die Barnards by wie hulle altyd gaan kuier het. Oom Hempie Barnard het kitaar gespeel en die hele lot het gesing. En iewers was ‘n bobbejaan aan ‘n ketting, ‘n klein seuntjie wat albasters speel en ‘n ou tannie op die stoep wat hom dophou. Dan skielik ‘n bloedstollende gil, wat nét Eddie Viljoen kan namaak: “Pasop! Die aap gaan jou marbles vat!”


    Almal babbel opgewonde terwyl die Land Cruiser die kilometers opvreet.


    “Ek wonder hoe Gholf Ses en sy pêl by die hekke uitgekom het?” vra iemand. ‘n Gelag. Roland kla dat hy nie kon slaap nie. Camille het heelnag na die paddas geluister. Mike Moertoe het ‘n maag wat nie wil gaan nie. Elke man het ‘n storie.
    Maar my kop het in Rustenburg agtergebly. Dit is mos ook die plek waar die Dorslandtrek begin het. In 1874 het ‘n klomp ouens van die Dopper Kerk hulle vererg vir die ongodsdienstigheid van die Transvaalse regering. Daar was ander oorwegings ook, maar ‘n klomp Boere het vir geen spesifieke rede besluit om te trek; sommer net omdat hulle trek in hulle gatte gehad het. In 1875 is die eerste lot onder leiding van ‘n sekere Gert Alberts die wye Kalahari met ossewaens in. Hulle moes oor groot afstande deur waterlose dele trek. Dit was ‘n verskriklike beproewing vir mens en dier. Vandaar die naam Dorslandtrek. Uiteindelik het Alberts se geselskappie van dertien gesinne en veertien waens by die Ngamimeer uitgekom. Toe is hulle Ghanzi toe en later het hulle by Rietfontein, iewers noord van Gobabis, vir byna twee jaar oorgestaan.


    Waarheen was hulle op pad? Niemand het presies geweet nie.


    In 1877 het ‘n tweede trekgeselskap onder Jan Greyling, bestaande uit 200 waens en 500 siele, die Alberts-trek gevolg. Maar dit was ‘n groep dwarstrekkers wat gou-gou onder mekaar begin baklei het. Op die rand van die Kalahari het Greyling glo aan veldkornet Louw du Plessis gesê: “Elke man staan hier op die platte van sy eie voete. My klomp sal ek deurbring.”


    Die gevolge was rampspoedig. Uiteindelik moes 128 waens in die woestyn agtergelaat word. Mens en dier was waansinnig van dors. ‘n Engelse sendeling wat van die rampspoedige trek gehoor het, het ‘n wavrag water van die Ngamimeer af gestuur. Alberts het met 200 osse vanaf Rietfontein getrek om Greyling-hulle te gaan bystaan. Maar op die ou einde het Greyling weer sy eie koers ingeslaan.


    ‘n Mens kan maar net jou kop skud. Die Boere trek vandag nog steeds – kruis en dwars, die wêreld vol...

    Die vistenk..


    Die Veggroep..


    Die manskappe..


    https://www.facebook.com/bothmalj/posts/658893877577827

  8. #8
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    54
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…



    EPISODE 3: Zeerust – Die storie van Gerrit Keulder


    My gedagtes word onderbreek toe ons by ‘n vulstasie op Swartruggens stop. Die voertuie is swaar gelaai en vreet brandstof.
    “Maak seker julle het julle paspoorte by julle,” sê Jaap Steyn, wat op sy tweede toer na Angola is en eintlik die 61 Meg-veterane se toerkoördineerder is. Rudolph Burger moet sy paspoort uit die Venter-waentjie gaan uitgrawe.


    Ek sien Groot Marico die eerste maal in my lewe – Oom Schalk Lourens se wêreld. Herman Charles Bosman.


    Ons stop nie in Zeerust nie, maar my gedagtes dwaal lank daar rond. Gerrit Keulder lê in dié mooi dorp begrawe; die eerste pelotonbevelvoerder wat 32 Bataljon verloor het. Maar sy storie is krom en skeef die wêreld ingestuur.


    Daar is in boeke geskryf hoe Gerrit met sy troepe anderkant die kaplyn in Angola ‘n vyandelike basis aangeval en vernietig het. Met die terugtog is hulle egter glo deur 300 terroriste aangeval en Gerrit is noodlottig gewond. Volgens ‘n ander bron wou sy troepe hom nie agterlaat nie. Hulle het sy liggaam “dae aaneen” tot op die kaplyn gedra terwyl hulle kort-kort met die vyand slaags was. Nóg ‘n storie wil dit hê dat die choppers nie magtiging kon kry om oor die kaplyn te vlieg nie. Dit was ‘n Sondag, net die eerste minister kon toestemming gee en hy het gholf gespeel. Toe moes die troepe Gerrit tot op die kaplyn dra. Skaars was hulle daar, toe blaas hy sy laaste asem uit.


    Die sommetjies wou nie uitwerk nie. Die kontak was minder as tien kilometer anderkant die kaplyn. Onder die omstandighede was dit hoogstens ‘n paar ure se stap. John Vorster was die eerste minister. Sou hy op ‘n Sondag gholf gespeel het? Die insident was op 9 Maart 1977 – ‘n Woensdag. Was Gerrit Keulder die enigste witte wat in die geveg betrokke was? Iets het gestink.


    Na ‘n lang soektog het ek by Herman Fourie uitgekom. Hulle was die betrokke dag twee pelotons bymekaar. Herman en Gerrit was die wit pelotonbevelvoerders saam met sestig swart troepe. Omdat hulle vermoed het dat daar ‘n SWAPO-basis tien kilometer ander die kaplyn was, het hulle toestemming gevra om ondersoek te gaan instel. Maar al wat hulle gevind het, was ongeveer 200 beeste wat in die middel van ‘n shana (‘n oop kol tussen die bosse waar gewoonlik plaaslike bevolking woon en water is) gewei het. By 32 Bataljon se basis op Omauni was ‘n beesboerdery. Herman en Gerrit het besluit om die beeste oor die kaplyn te jaag, menende dat hulle vandaar Omauni toe moes gaan.


    ‘n Jaar gelede (2009) het generaal Denga Ndaitwah, nou hoof van die Namibiese weermag, my sy kant van die verhaal vertel. Hy was op daardie tydstip ‘n detachment commander, toe hy met ‘n klein afdeling PLAN-guerrillas toevallig op ‘n groep swart soldate afgekom het wat beeste deur die bosse aangejaag het. Ndaitwah en sy groepie het van noord af verbygehardloop en haastig ‘n hinderlaag aan die suidekant gelê. ‘n Kort vuurgeveg het uitgebreek, waarna Ndaitwah-hulle onttrek het. Dit het die gewenste uitwerking gehad, want daar was chaos en die meeste beeste het noordwaarts padgegee.


    “Het julle geweet dat julle ‘n wit pelotonbevelvoerder doodgeskiet het?” het ek gevra en Ndaitwah ‘n foto van Gerrit gewys.
    “Nee, ons het maar net geskiet en padgegee.”


    Gerrit Keulder was ‘n diep gelowige seun wat predikant wou word. Sy troepe het hom tenente Abre Mata – die luitenant wat die bos oopmaak – genoem. Sy ouers, Dries en Elaine Keulder, was gesiene en gerespekteerde mense op Zeerust. In daardie jare het die Nasionale Party-regering ten sterkste ontken dat Suid-Afrika troepe in Angola het. 32 Bataljon – wit leiergroep wat met swart Angolese troepe Suid-Afrika se terroriste-oorlog aan die Angola kant van die grens geveg het – was nog ‘n goedbewaarde geheim. Boonop was 1977 ‘n verkiesingsjaar. As die waarheid moes uitkom sou daar lastige vrae gewees het om te beantwoord. Van wanneer af boer die weermag met beeste op die grens? Pas die weermag (soos die Engelse gedurende die Anglo-Boereoorlog) ‘n verskroeide aarde-beleid in die operasionele gebied toe?


    Die NP-regering kon eenvoudig nie bekostig dat Zeerust se mense die waarheid oor Gerrit Keulder hoor nie. Die Keulders is getroos met ‘n Suiderkruismedalje wat postuum aan Gerrit toegeken is. Daarmee is die deksel op die pot gesit en aanbeweeg.


    In Mei 1982 het ‘n groep Owambo-hoofmanne op Omauni opgedaag om beeste wat die weermag na bewering van hulle gesteel het, op te eis. 32 Bataljon het volgehou dat die beeskudde op Omauni oorspronklik saam met die families van sy gewese FNLA-lede uit Angola gebring is. Die hoofmanne het voet by stuk gehou en beeste uitgewys waarvan sommige na bewering reeds sedert 1977 vermis was. Om die vrede te bewaar, is die hoofmanne toegelaat om die beeste wat hulle uitgewys het na hul krale terug te neem.


    “Reg manne, hier is ons nou by die grenspos. Uit met die paspoorte en penne,” kondig Jaap aan.
    Geen probleme om deur Skilpadshek te kom nie. Aan die ander kant van die grens word ons deur die vriendelike immigrasiebeamptes van Botswana gehelp en deurgelaat.

    https://www.facebook.com/bothmalj/posts/659395204194361

  9. #9

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    Thanks for sharing.
    "Trespassers will be welcomed, and served a light lunch"

  10. #10
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    54
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…



    EPISODE 4: In die Vistenk tot by Kang


    Botswana is vir my ‘n nuwe ervaring. Die eerste ent anderkant die grens is die landskap golwend, maar daarvandaan verder is dit plat soos ‘n tafel. Dit is net sandvlaktes en bosse. Die paaie is uitstekend, die mense vriendelik, die toilette skoon en die geldeenheid sterk.


    Ontbyt is langs die pad onder ‘n boom. P.W. en Ted slaan ‘n tafel op en pak eetgerei uit. Daar is kouevleis, broodjies, vrugte en slaai. Rudolph Burger, ‘n boer van Brandfort wat ‘n kaasfabriek op sy plaas het, het vir ons van sy heerlike Bellevue Premium Jersey Kaas saamgebring. Ons sluk dit met ‘n koue bier af. As dit die standaard is wat gehandhaaf gaan word, gaan ons spekvet word op hierdie toer.


    “Ry julle ouens lekker in die Vistenk?” vra Efpé Senekal vermaaklik. Hy praat seker van ons lot in die Land Cruiser? Ons koddige ryding met die groot ruite herinner nogal aan ‘n verdomde vistenk. Net daar steek die naam vas.
    Kang is nog ver en die son is warm. Ons help gou vir P.W. en Ted oppak en val weer in die pad. Die uitvraery oor wie is jy, wat doen jy en waar kom jy vandaan, begin bedaar.


    “Julle sal vannaand om die vuur kans kry om julself voor te stel,” sê Jaap.


    Roland, wat reg in die middel van die Vistenk sit, raak die spil waarom die gesprek draai. Hy is intelligent, ‘n uitstekende kommunikator en praat met gesag. Snaaks genoeg is die onderwerp nie oorlog nie, maar leierskap en bestuursbeginsels. Ek is aangenaam verras. Ons gaan baie by hierdie ou leer.


    ‘n Warm wind dwarrel deur die Vistenk. Kort-kort neem iemand ‘n slukkie water. Ek staar oor die eindelose vlaktes en kyk na donkies en bokke langs die pad. Meteens wonder ek weer oor die Dorslandtrekkers. Waarlangs het hulle getrek? Iewers moet die lieflike Trans-Kalahari teerpad seker die ou Dorslandroete kruis? Weet iemand waar? Maak dit nog saak? Dit val my op dat die Dorslandtrekkers, al het hulle dit in daardie stadium nie geweet nie, óók na Angola op pad was. Ons sal hulle spore dus vorentoe weer iewers kruis.


    Net toe dit voel of ons nooit by Kang gaan uitkom nie, piep-piep ‘n selfoon. Ons moet naby ‘n dorpie met ‘n selfoontoring wees. Dit is Kang. Nie ‘n reuse-dorp nie, maar ‘n netjiese vulstasie waar ons weer die voertuie volmaak.


    “Waar is die kamp?” wil ons weet.
    “Nie hier nie. Ons moet nog ‘n ent aanstoot,” beduie Jaap.
    Uiteindelik draai ons by ‘n bordjie af: Kalahari Rest (S 23 30.822'; O 22 36.729'). Almal smag na ‘n koue bier. Die hoop beskaam nie. Die kampplek is lieflik. Daar is kameelhout vir ‘n groot kampvuur. Skoon badkamers. Ons gaan nie tente opslaan nie – sommer netso langs die voertuie in die sand lê.


    Terwyl die kokke vleisbraai, kry Jaap almal bymekaar. Ons sit in ‘n kring op kampstoeltjies. “Môreaand is ons in Windhoek. Frank van Zyl en sy manne het vir ons ‘n moerse paartie gereël. Daar is alles. Ons slaap sommer net daar. Julle moet vannag goed uitrus, want daai ouens in Windhoek kuier dat die bloed loop,” kondig Jaap aan.


    Ons word in drie spanne ingedeel wat elke dag roteer. Die pakspan moet op- en afpak, die kosmaakspan moet die kokke help en skottelgoed was, en die derde span is in rus, maar kan vir enige taak wat mag opduik aangewend word.


    Hierna stel elke man homself bekend. Almal was een of ander iets in die weermag, van korporaal tot generaal. Maar ons dra nie meer dieselfde uniform, dieselfde haarstyl, en dink en doen dieselfde nie. Elkeen is ‘n individu in eie reg, staan op sy eie bene en maak ‘n verskil aan die wêreld rondom hom. ‘n Verskeidenheid beroepe is verteenwoordig: Boer, stadsbeplanner, ingenieur, bestuurskonsultant, filmmaker, joernalis, skrywer, bankier… Daar is vakmanne, sakemanne en direkteure van maatskappye.
    Niemand staan hoër as enigiemand anders op hierdie toer nie.
    “Every man counts,” het Roland al ‘n keer of wat gesê.



    https://www.facebook.com/bothmalj/po...759820824566:0

Page 1 of 23 1 2 3 11 ... LastLast

Similar Threads

  1. RIP Louis Awerbuck
    By BigT in forum General Discussion
    Replies: 15
    Last Post: 30-06-2014, 10:09
  2. Bothma!!!
    By Brett Nortje in forum General Discussion
    Replies: 1
    Last Post: 09-09-2011, 23:14
  3. Louis
    By Louis Maas in forum Introductions
    Replies: 10
    Last Post: 23-10-2010, 20:17
  4. Dir Bothma out?
    By Karel Kruger in forum Speakers Corner
    Replies: 93
    Last Post: 15-09-2009, 13:45

Posting Permissions

  • You may not post new threads
  • You may not post replies
  • You may not post attachments
  • You may not edit your posts
  •