Page 10 of 23 FirstFirst ... 8 9 10 11 12 20 ... LastLast
Results 91 to 100 of 224
  1. #91
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    48
    Posts
    891

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    More aand, as die sein hier rond nie weer verdwyn nie (soos vandag), volg 'n spesiale bylae oor Operasie Curry.

  2. #92
    User
    Join Date
    Feb 2015
    Age
    38
    Posts
    51

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    Ek hou styf duime vas vir goeie sein

  3. #93
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    48
    Posts
    891

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog

    SPESIALE BYLAE tot EPISODE 67: OPERASIE CURRY / OSHATOTWA

    In Julie 2012 het 'n groepie van ons (wat bestaan het uit Koos en sy eggenote Isobelle Moorcroft, Flip Marx, Charl Naude, Rudolph en Camille Burger, Kenneth Schwartz, Efpe Senekal, John McMahon en myself) die bosse van Wes-Zambi aangedurf en Oshatotwa gaan soek.
    Na aanleiding hiervan kon ek 'n omvattende weergawe van Operasie Curry skryf wat 'n jaar later in "Vang 'n Boer - die stryd tussen Boer en Ovambo", pp. 367-374, verskyn het.

    Sonder vlerke terug in Oshatotwa

    ’n Spikkeltjie tussen iewers en nrens in Wes-Zambi.

    Dowwe tweespoorpaadjies tussen nimmereindigende bosse. Geen naambordjies nie, geen aanduidings op ’n kaart nie.
    Nt ’n Recce kan ’n mens help om di plek op te spoor. ’n Recce wat op Sondag 11 Julie 1976 dr was om twee basisse van Swapo (die destydse South West Africa People’s Organization, vandag die Swapo-party) se People’s Liberation Army (PLAN) aan te val en te vernietig.

    Baie mense weet van die parabats se aanval in Mei 1978 op Cassinga, Suid-Angola. Maar wie in Suid-Afrika het al gehoor van Operasie Curry, die Recces se waaghalsige aanval twee jaar vroer opOshatotwa?

    ’n Paar van ons oudsoldate het in Julie verlede jaar saam met Koos Moorcroft, Charl Naud en Flip Marx, wat destyds daar was, na Oshatotwa gaan soek. Koos se vrou, Issie, het ons vergesel.
    Koos het Issie die aand voor Operasie Curry uit Rundu (in die destydse Suidwes-Afrika) gebel. Issie, wat in daardie stadium in Durban was, het benoud geantwoord: “Jy is bang. Ek kan dit aan jou stem hoor.”

    Koos en Charl was deel van ’n groepie van vyf wat vooraf die PLAN-basisse moes gaan verken. Flip sou later saam met die hoofmag invlieg om die aanval saam met die verkenningspan te doen.

    Terwyl die vyf verkenners die aand van 8 Julie 1976 hul valskerms onder die grootste geheimhouding op Rundu-lughawe aangetrek het, het Hans Moller, die gebiedsbevelvoerder, vir hulle uit Psalm 144 voorgelees: “Geloofd sy die Here, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te voer.”

    Skuins n middernag is die verkenners diep in vyandelike gebied afgegooi. Die volgende aand het hulle ’n kompaspeiling geneem en begin stap. Teen dagbreek het ’n haan skuins links voor hulle in die bosse gekraai. Regs van hulle het ng een gekraai. Daar was stemme. Troepe wat aantree vir parade. Die verkenners kon nie beweeg nie.

    “Dit was die langste dag van my lewe,” het Charl vertel toe ons op ’n koue wintersnag verlede jaar kort duskant Oshatotwa om die vuur gesit het. Sy gedagtes het afgedwaal na Connie van Wyk, sy boesemvriend wat in Mei 1979 gesneuwel het.

    “Toe ek Connie uit daai tjopper tel, toe voel ek iets teen my hand: Twee AK47-patrone in sy hemp. Ek het daai patrone vandag nog in my kluis. Toe kliek ek daar is ’n kans dat ek ook my gat kan sien. It changed my life.”

    Maar in 1976 by Oshatotwa het Charl Naud onsterflik gevoel. Hy en Koos Moorcroft het tot binne een van die PLAN-basisse gekruip. Teen dagbreek was hulle weer ver weg; die verkenning afgehandel.

    Daardie nag is Hannes Venter met die hoofmag ingevlieg en per valskerm neergelaat.

    In die proses het iemand skelmpies vir Koos ’n brief van Issie saamgebring. Moeilikheid. Wat as die vyand die brief in die hande kry? Die wreld het steeds gal gebraak oor Operasie Savannah – die SAW se inval in Angola.
    Op 16 Junie 1976 het Soweto ontplof. Die oproer was nog besig om uit te kring toe die Recces Oshatotwa op 11 Julie gaan aanval het.

    Koos het die brief gelees en dit opgeet, maar die koevert in sy rugsak gesit en weggesteek. Gedink om dit n die aanval weer te gaan haal.

    Ongeveer 30 Recces het ’n oormag gepak, net voor dagbreek daardie Sondagmre. Hannes Venter het met die hoofmag teenoor die grootste van die twee PLAN-basisse stelling ingeneem. Charl het die aanval op die ander basis gelei. Hy en sy groepie was net in posisie toe ’n PLAN-soldaat doodluiters aangestap kom, sy gulp oopmaak en begin water afslaan – byna op hul makker L.C. Odendaal!

    Toe klap die skote.

    Philip Shinoya, ’n boorling van Oshatotwa, het ons verlede jaar gaan wys waar presies die basisse was. Die loopgrawe aan die suidekant is nog duidelik sigbaar, maar behalwe vir ’n paar geroeste blikkies het niks van die twee basisse (wat maar 900 m uitmekaar was) oorgebly nie.

    “Ek weet nie hoeveel mense hier doodgeskiet is nie, maar dit was baie. Party het kaal die bosse ingehardloop,” het Philip, destyds 14 jaar oud, vertel.

    Charl onthou hoe die ammunisieopslagplek ontplof het. Tydens die opruiming van die basisse is tasse vol dokumente buitgemaak. Daar was baie Bybels. ’n Paar groot kartondose is haastig oopgeskeur. Miskien die vyand se uniforms wat die Recces tydens operasies soos hierdie kon gebruik?

    “Wat de moer . . .?” Iemand het ’n vreemde pakkie omhoog gehou. Sanitre doekies.
    “Gooi in die vuur!” het Charl beveel.

    Die aanval was verby, die Recces besig om te onttrek en die tjoppers gereed om hulle te kom oppik. Maar meteens was daar ’n ontploffing. ’n Teenpersoneelmyn het Neil Robinson se voet weggeblaas. In die haas om te onttrek, het die Recces per ongeluk in een van hul eie opgestelde hinderlae ingestap. Gelukkig het iemand voor Neil die ladings raakgetrap wat ’n aantal skrapnelmyne moes aktiveer wanneer die teenpersoneelmyn afgaan.

    Toe loods die Zambiese weermag, wat in hierdie stadium ook ’n teenwoordigheid by Oshatotwa gehandhaaf het om strydende PLAN-faksies uitmekaar te hou, boonop ’n teenaanval. Die Recces het dit afgeslaan en die helikopters het ingekom.

    Wat as die lugmag die manne op die grond vir “terroriste” aansien? Johnny Achurst het ’n stuk glimband woes heen en weer gewaai en geskree: “Moenie skiet nie. Dis Oom Paul (Kruger) se mense!”
    Uiteindelik was almal in die tjoppers en op pad om die oorwinning te gaan vier.
    Maar Koos Moorcroft se rugsak het agtergebly . . .

    Twee weke later is Suid-Afrika in die Veiligheidsraad (VN) deur Zambi van aggressie teen ’n buurstaat aangekla. Suid-Afrika het glo ’n aanval op Zambiese grondgebied gedoen, 24 mense doodgeskiet en 45 gewond.
    Die Suid-Afrikaanse regering het dit ten sterkte ontken. Maar wat as die Zambiese owerhede Koos Moorcroft se rugsak in die hande kry en hul hande l op die koevert met sy naam op?

    Koos moes aan genl. Magnus Malan gaan verduidelik.
    “Wat was ng in daai rugsak?” wou Malan weet.
    “My Bybel, generaal.”

    Maar die rugsak is nooit gevind nie en die stof het gaan l.
    “Oshatotwa is ’n Oshivambo-woord wat in Engels foundation beteken. Maar ons plek se naam is eintlik Lyamunene,” het Philip Shinoya met ons besoek verlede jaar verduidelik. Lyamunene se gehawende groepie inwoners het nuuskierig nader gestaan. Ons het uitgedeel wat ons kon. Flip het Philip ’n rol note in die hand gestop.

    Dit was tyd om te groet. “Kan julle vir ons iets sing?” het ek gevra.
    Philip het voorgesing, die vroue en kinders agterna. “Napiramando, napiramando . . .” Byna ’n klaaglied.
    In ’n vreemde wreld, in ’n vreemde taal, het iets bekend geklink.
    “Wat beteken die woorde?” wou Issie weet.
    “If I could fly . . . but I have no wings,” het Philip verduidelik en sy arms op en af gewaai.
    “Dit herinner aan Frank Duval se liedjie ‘If I could fly’, wat nou die dag op Piet Opperman (ook ’n oud-Recce) se begrafnis gespeel is,” het Issie verbaas ges. ’n Traan het teen haar wang geblink. Almal was aangedaan.
    Flip Marx se broer, Wentzel, was k ’n Recce. Toe die geveg by Onalumono (Eheke) laat die middag op 28 Oktober 1977 verby was, het hy daar tussen die ander gel. Dood.
    Flip was nooit weer dieselfde nie. N Connie van Wyk se dood was Charl ook nie weer dieselfde nie.
    Niemand was ooit weer dieselfde nie.
    Napiramando, napiramando . . 





    Foto heel bo - Flip Marx, Koos Moorcroft, Charl Naude en Louis Bothma (skrywer) op die plek waar Oom Koos, Charl en 'n paar ander Recces gedurende die nag van 8/9 Julie 1976 per valskerm neergelaat is om die verkenning te doen.

    Foto onder- Oom Koos en Isobelle in ons kampplek, naby Oshatotwa, Julie 2012. Foto's die skrywer.

    http://152.111.1.88/argief/berigte/b.../5/oorlog.html

    https://www.facebook.com/bothmalj?fref=ts

  4. #94
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    48
    Posts
    891

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 68: Voorligting teen die Vistenk


    “Hierdie plek sal as die Nag van die Maroela onthou word,” s Roland de Vries toe hy die volgende oggend uit sy tent kruip.
    Behalwe sy gebruiklike seer rug (die gevolg van die landmynongeluk in 1977 by Etale), het Roland kneusplekke waar ‘n dro maroela hom die hele nag deur sy kampmatrassie gekarnuffel het. Maar daar is ook ongevalle in die kamp as gevolg van die vorige aand se gekuier om die vuur. Die ondersteuningspersoneel kan net nie uit die blokke kom nie. Toe die son rooi tussen die takke deur loer, slaap party nog soos vet babas. Andre het iets in sy oog. Terence gaan haal die mediese tas, probeer sy bes, maar rig niks uit nie.


    Terwyl ons koffie drink is Roland en Camille hard aan die werk om vir ons ‘n aanbieding met kaarte en lugfoto’s voor te berei. Camille is ‘n stads- en streeksbeplanner en kartografie is sy fort. Lank voor die toer het hy op eie inisiatief reuse-kaarte vanaf lugfoto’s geteken en laat lamineer. Die kaarte word oopgerol en teen een van die Vistenk se sykante geplak.
    Roland trek pyle en diagramme om ons te orinteer. Mike en Deon Joubert rangskik die kampstoele in ‘n halfmaan. Alles is gereed – kompleet soos in die ou dae in ‘n operasiekamer op die grens.


    “Die area wat ons vandag binnegaan is in my kop die tipiese guerrilla strategic base area, ‘n begrip waarna Mao Tse Tung altyd verwys het. PLAN was SWAPO se guerrillamag en hier was hulle basisse, caches, infrastruktuur en ondersteuning deur FAPLA. Heel bo in die noorde is die spoorlyn. Die pad kom regdeur Indungo, Cassinga, Tetchamutete, Cuvelai, Mupa, Evale, Ondjiva – tot onder by Santa Clara op die grens. Voor Operasie Protea kon PLAN tot op die grens ry en in Owamboland opereer, maar n Protea moes hulle van hier af stap,” beduie Roland met ‘n lang stok op een van die kaarte.


    Ek maak ‘n vinnige sommetjie. Dit is maklik 400 kilometer van Cuvelai tot by Tsumeb. Dit is hoe ver PLAN-guerrillas moes stap om die wit boerderygebied binne te dring. En as hulle daar opgespoor is, is hulle met helikopters, Casspirs, Ratels, Buffels, honde, motorfietse en wat nog alles gejaag. Hulle het nie radioverbinding met hul basisse hier ver in Angola gehad nie; geen helikopter wat gestuur kon word om ‘n gewonde guerrilla by Tsumeb te gaan haal nie.


    Roland brei uit oor Operasie Protea, maar my kop is by Operasie Yahoo. As ek van hier af met die voet Tsumeb toe moes stap en dieselfde moes gaan doen wat PLAN se spesmagte gedoen het…? Al eerlike gevolgtrekking wat ek kan maak, is dat ons nie teen lafaards nie, maar teen ‘n baie gedugte vyand baklei het.






    Fotos bo: Roland de Vries, besig met sy aanbieding teen die Vistenk.





    https://www.facebook.com/bothmalj

  5. #95
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    48
    Posts
    891

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog

    VERDERE SPESIALE BYLAE TOT EPISODE 67: OPERASIE KROPDUIF / EHEKE - ONALUMONO


    Na die skitterende sukses in Julie 1976, het die Recces Eheke-Onalumono in Oktober 1977 aangeval. Dit was bedoel om 'n tweede Oshatotwa te wees, maar, soos ook gedurende oorlog gebeur, het alles net eenvoudig skeefgeloop. 'n Groep van ons het die terrein waar die geveg op 28 Oktober 1977 plaasgevind het, in Julie 2011 besoek. 'n Gedetailleerde weergawe van die geveg het in 2013 in "Vang 'n Boer - die stryd tussen Boer en Ovambo" verskyn.

    Daar was ’n paar sulke donker dae op die Grens. Dae waarop dinge skeef geloop en manne “onnodig” gesterf het. Dae wat steeds bly spook.
    Watter oudpolisieman sal 8 Maart 1974 vergeet? Die naakte lyke van vier konstabels wat koelbloedig op die oewer van die Zambezirivier tereggestel is; die patrollieleier, sers. Johan Khn, tot vandag toe vermis.
    En wat van Savate? 32 Bataljon se spook. Op 21 Mei 1980 het 15 man by di klein gehuggie op die wesoewer van die Cubangorivier gesneuwel. Drie weke later het 61 Meg se Ratels in ’n Swapo-basis by Smokeshell vasgery – 13 dooies.
    En sal die Parabats die dag vergeet toe ’n chopper met 15 man in vlamme reg bo ’n Swapo-basis afgeskiet is?

    Maar die Recces – Suid-Afrika se elite-verkenningsoldate – het ook ’n spook: Eheke.
    Ek was ’n troep by Infanterieskool toe Rapport op 30 Oktober 1977 berig: “Woeste geveg heen en weer oor die grens”. Vyf van SA sterf en 61 van Swapo. Ek was geskok om te sien Vingers Kruger, broer van sammajoor Rooi John Kruger by wie ek basiese opleiding gekry het, is onder die dooies. Die volgende dag het Die Burger uitbasuin: “Swapo-verliese is veel groter as 61”.

    ’n Reuse-oorwinning? Meer as tien “terroriste” vir een van ons?

    Dit was ver van die waarheid.

    Einde 1977 toe ek by 32 Bataljon beland, het ek gehoor sewe Recces, onder andere Vingers Kruger, is kort tevore 20 km in Angola in by ’n Swapo-basis met die naam Eheke doodgeskiet.

    32 Bataljon, onder aanvoering van Eddie “Big Daddy” Viljoen, was k daar – iewers in die bosse suid van Eheke. Buffalo se soldate was die lokaas wat die aandag van die groot Recce-aanvalsmag, wat van noord af ingestap het, moes aftrek. Dit was ’n nare ondervinding. Swapo het Big Daddy-hulle met letterlik alles bestook – van 122 mm-vuurpyle tot wit fosfor.
    Maar die Recces, wat middernag met valskerms neergelaat is en moes aanval terwyl die “terroriste” nog slaap, was nrens nie.

    Daar is ges die lugmag het hulle verkeerd afgegooi; te ver noord van die teiken. ’n Uitputtende staptog het gevolg. Die son het opgekom, sy draai gemaak en begin sak.
    “Moet die operasie nie afgelas word nie?” het die Recces op die grond gevra. Daar was geen verrassing nie. Trouens, ’n groep Swapo-vegters het die Recces se spore gekruis en stilletjies al agter hulle aangestap.

    “Gaan voort,” het iemand besluit.
    Skuins n 16:00 die middag het die Recces se linkerflank in een van Swapo se swaar masjiengewere vasgeloop – met noodlottige gevolge. Die geveg het nie lank geduur nie. Die Swapo-basis is nie in totaliteit verower en opgeruim nie. Die aanvalsmag het tot in die westelike loopgraaf gevorder en die masjiengeweerstelling ingeneem. Vyandelike verliese is oorskat. Maar Swapo het ook oordryf. Hulle is ni deur “Chileense huursoldate” aangeval soos sommige steeds glo nie. En hulle het slegs sewe aanvallers doodgeskiet, nie 80 nie!

    Teen sononder het choppers die dooies en gewondes kom haal en water gebring. Die dors was verskriklik. Big Daddy-hulle het nader beweeg. Hulle het die Recces, onder aanvoering van Hennie Blaauw, in ’n shana (’n groot oop kol tussen die bosse waar plaaslike bevolking woon) ontmoet. Iewers het honde geblaf. Daar was vure en baie rook. ’n Volmaan het bloedrooi oor die boomtoppe opgekom. Onheilspellend.

    Shana Onalumono.

    Dit is die naam van die plek in die middel van nrens, waar die Swapo-basis was wat ons Eheke genoem het. Dit is hier waar ons geselskappie van 12 siele laat Maandagmiddag, 11 Julie 2011, stilhou. ’n Skare nuuskieriges kom aangehardloop.

    Wit mense? Boere? Die eerste keer n al die jare . . . ?
    Eddie Viljoen is op krukke. Langs hom staan Jack Greeff, ’n Recce wat 34 jaar gelede op die linkerflank was.
    “Dit was by sulke bome soos daai wat ek en Hennie Blaauw bymekaar gekom het.” Eddie beduie noord. Sy blou o blits soos van ouds. Sy hele lyf is hoendervel. Ek skrik. Hy moenie nou iets oorkom nie.

    “Dit was by daai boom, net agter die dro boom,” beduie Jack opgewonde.

    ’n Skraal krel met ’n blou oorpak kom staan tussen ons. Sy naam is Reinhard, sekretaris van die hoofman. Hy het in Swakopmund gewerk en praat Afrikaans. Tussen die skare is ’n seun met ’n pyl-en-boog en ’n vrou wat pyp rook. Owambo en Boesman woon hier saam.

    “Ek het ’n groep swart mense oor die shana sien aankom. Toe dink ek ons maak weer van voor af oorlog. Ons het nooit geweet 32 Bataljon is aan ons suidekant nie,” s Jack. Rudolph Burger, een van drie Recces wat in die bosse moes agterbly om die valskerms bymekaar te maak, trek sy o skrefies. Ek en Koos Moorcroft gaan saam met Reinhard na hoofman Jonas Haushona. Hy’s kaalvoet, rook pyp en dra ’n windmakerige hoed. Ons is baie welkom. Niemand is vir die Boere kwaad nie.

    Maar hoe het die wiel nie gedraai nie? Destyds het ons gemaak wat ons wil. Nou moet ons die plaaslike bevolking toestemming vra.
    Ons kamp onder die bome langs die ou Swapo-basis. Koos Moorcroft laat die Recces by die huis per satellietfoon weet: “Ons is in Eheke!”
    ’n Ellelange nabetragting. Wie is te blameer vir Eheke?
    “Skryf nou vir eens en altyd die waarheid,” s Eddie driftig.

    Vingers wys na die Recce-bevelvoerders by die taktiese hoofkwartier op Eenhana.
    Hulle was eenkant in hul eie tent doenig. Hulle het hul eie operasie binne ’n groter operasie (Operasie Kropduif) gedryf en nie die bevelvoerende generaal te alle tye van hul besluite ingelig nie. Toe dinge sleg afloop vir die Recces, het hulle die skuld op die generaal gepak.

    Maar die Recces by Eheke was manne van staal. Jack onthou: “Toe ons nog sit en hanna-hanna, het sammajoor F.C. van Zyl opgestaan en ges ons moet hierdie ding oorkry.” Kort daarna was hy dood.

    Hoofman Haushona neem ons die volgende oggend deur die ou Swapo-basis. “Hier buite die kamp was die kookplek. Die loopgrawe was hier, die mediese pos daar. Hier was ’n groot geweer; Swapo se geweer. Die Boere het by die geweer gekom, hom net gekyk, maar nie gevat nie. Hy was te groot.”
    Geroeste blikke, ’n medisynebotteltjie, stukke van ’n ammunisiekis. Jack hou die stertvin van ’n Suid-Afrikaanse 60 mm-mortierbom omhoog. Al wat van die Boere by Eheke oorgebly het?

    En Swapo?
    Iewers teen ’n boomstam, baie dof, staan daar nog: “Swapo Onalumono”.
    Maar soos die Boere, is ook Swapo terug na hul eie land. Ons het ons Swapo-vriende in Namibi saamgenooi Eheke toe. Nie n kon sy weg oopsien nie; kon ook nie vir ons die (ses?) name van hul mense gee wat hier gesneuwel het nie.

    Teen sononder is l Onalumono se mense by ons kamp. Ons deel klere, lekkers en skryfgoed uit. Eddie gee sy baadjie aan die hoofman. Op ’n vlekvrye staalkruis staan die name van ons helde. Die kruis is vir almal, ook vir Swapo, verduidelik ek. Mike Beyl spyker die kruis hoog teen ’n boomstam vas.

    Die volgende oggend is ons op pad huis toe. Eheke het nooit aan ons f aan Swapo behoort nie. Dit behoort aan Onalumono se mense. Eenvoudige mense wat 34 jaar gelede moes wegkruip toe die skietery uitgebreek het. Maar hoede af vir ons dapper helde. Hulle is die engele wat ons teruggebring het om die eintlike wenners te kom ontmoet:
    Jonas Haushona en sy mense.









    Foto's bo: Onalumono se mense,
    Eddie Viljoen en Jack Greeff,
    Jack Greeff as spesmagte-operateur,
    en om die kampvuur langs die ou basis waar die geveg in 1977 was.
    Foto's geneem deur die skrywer, Mike Beyl, Camille Burger en Jack Greeff.



    Foto bo: Geneem in die C160 die net voor die verkenningsspan uitgespring het op 12 000 vt.

    http://152.111.1.88/argief/berigte/b.../gvrecces.html
    https://www.facebook.com/bothmalj

  6. #96
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    48
    Posts
    891

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 69: FAPLA maak flopse


    ‘n Beweging aan die regterkant trek ons aandag. ‘n Paar vroue stap met plastiekkanne verby; op pad rivier toe om te gaan water haal.
    “Mre, mre,” s Roland beleef en gaan voort met sy aanbieding. Hy is besig met Operasie Meebos – ‘n soek-en-vernietig operasie wat middel 1982 (net na Operasie Yahoo) in die Mupa-, Cuvelai- en Bambi-omgewing deur 32 Bataljon, die Parabats en 61 Meg uitgevoer is. 61 Meg se taak was om seker te maak FAPLA meng nie met die operasie in nie. Kontak met hulle moes egter so ver moontlik vermy word.


    “Terwyl ons noord beweeg het om ‘n HAG (helikopter administratiewe gebied) te gaan stig, het twee FAPLA-verkenningspanne in oop Land Rovers skielik van vooraf deur die bosse op ons afgekom. Ek het net gesien hoe die voorste swartes se o wit raak. Toe spring hulle almal af en hardloop in verskillende rigtings weg. Die eerste Land Rover het teen die voorste Ratel gebots. Die tweede Land Rover het in die eerste een se gat vasgery,” vertel Roland. Ons lag; moes komies gewees het.


    Hierna het die FAPLA-brigade in Cuvelai egter ‘n aanval gevrees. Hulle het s wild geskiet dat hulle inderhaas ammunisie per radio van Tetchamutete af moes aanvra. Di berig is onderskep. Jan Malan van A-Kompanie het op 4 Augustus opdrag gekry om ‘n hinderlaag op die pad tussen Cuvelai en Tetchamutete te gaan l.


    “Was dit dieselfde Jan Malan wat in bevel van die kompanie was toe die Ratel met Oom Daan van der Westhuizen-hulle by Tsumeb uitgeskiet is?” wil iemand weet.
    “Ja, die einste Jan Malan. Maar hier het hy die bordjies verhang,” antwoord Roland. Hy vertel hoe Jan met ‘n peloton ingevlieg is, die hinderlaag gel en in die vroe oggendure op die twee voorste voertuie losgebrand het. Een was ‘n ammunisietrok. Dit het aan die brand geraak en ontplof. Die ander voertuie het in die bosse ingejaag en probeer omdraai. Teen eerstelig het twee Mirages met die pad langs gevlieg en gunships onder bevel van Neall Ellis het nog ‘n hele paar voertuie uitgeskiet. Twee trokke vol voorrade is buitgemaak en daar is agterna partytjie gehou met die vyand se kos.


    “Ons gaan vandag daar verby ry, dan praat ons weer hieroor,” s Jaap, wat al van Xangongo af met sy knipmes besig is om iets uit ‘n stukkie hout te prakseer.




    Foto bo: Een van die FAPLA Land Rovers wat teen 'n Ratel en toe teen 'n ander Land Rover gebots het.





    Fotos bo: Die pad tussen Mupa en Cuvelai. Foto's verskaf deur Roland de Vries, Camille Burger en Mike Beyl.


    https://www.facebook.com/bothmalj

  7. #97
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    48
    Posts
    891

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag n entjie saam


    EPISODE 70: Daar was 15 lyke in total


    Roland vertel van n volgende insident, n paar dae later, toe ng n helikopter afgeskiet is.
    Kolonel Jan Pieterse, die bevelvoerder van Operasie Meebos, het pelotons van 32 Bataljon en die Parabats na die Calongarivier laat troepeer om n PLAN-basis aan te val. Soos Roland kan onthou het die Pumas wat die troepering gedoen het, twee of drie keer dieselfde roete gevlieg. (Daar is ander weergawes ook). In die proses is een van die Pumas met twaalf Parabats aanboord deur lugafweergeskut afgeskiet.


    Ek is ene ore. Oom Alex Britz van Tsumeb het n paar aande tevore van hierdie insident vertel. Daarby het ek ook by geleentheid n onderhoud met Renier Kleinepunte, die pelotonbevelvoerder van die twaalf Parabats wat daar dood is, gevoer.
    Ons het opdrag gekry om na die plek te gaan waar die chopper afgeskiet is en seker te maak van die aantal lyke. Daar is gevrees dat SWAPO een van die troepe kon gevang het. Een moes uitgeval het. Daar was n sleepsel. Ons het hom teen n boom gekry met n kopskoot. Die pilot en die boordtegnikus het opgeprop in hulle sitplekke gesit. Dit was duidelik dat SWAPO hulle so afgeneem het. Later toe daar met dieselfde groep kontak geslaan is, het ons ouens polaroid fotos en van die Bats se dog tags gekry, vertel Roland.


    Ek dink aan wat Renier Kleinepunte my vertel het. Dit is ongelooflik om die storie ook uit n ander hoek te hoor.


    Roland gaan voort: Intussen kom daar n Ratel 90 vir een of ander rede aangery en een van my troepbevelvoerders klim af. Ek s vir hom: Stop net waar jy is en klim terug in jou voertuig. Maar hy kom nader en trap op n blddie myn. Hy blaas hom voor my op. Toe is dit nou moerse versigtig hoeveel myne is nog daar? Toe het ons met die Ratel so half in die wrak van die chopper ingery en die lyke in sakke gelaai. Ek onthou nog daar was te min sakke
    Ek kan n paar van die Parabats se name onthou: Mallon, Marshall, Moody, Krull, Lombard, Van Niekerk Graham slaan die name van die drie lugmagouens na wat ook omgekom het: kaptein John Twaddle, luitenant Chris Pietersen en sersant C.N. Grobler.


    Daar was 15 lyke in totaal. Ek en JAB Swart, my lugsteunoffisier, het hulle getel en weer getel. In n stadium het Jan Pieterse my gekontak en ges ons het n fout gemaak, daar is net 14. Vroeg die volgende oggend het hulle laat weet hulle het inderdaad 15 beentjies gekry. Elke mens het glo nt een s n beentjie. Toe is die getal bevestig, sluit Roland hierdie hartseer episode af.


    Hierdie was n slegte area vir 61 Meg. Ek gaan die name aflees van 61 Meg-lede wat binne die bestek om 5 dae (31 Desember 1983 tot 4 Januarie 1984) gesneuwel het, s Graham. Ons luister na die name in die stil oggendlug van Angola: G.P. le Roux, D.J. Schrnen, M.C. Smit, B. Green, H.A. Heyns, G.A. Lennox, D.A. Louw, L.F. Pearson, G.D. Pretorius, J.L. Pretorius en W.T. Steenkamp.


    Hierdie ouens is tydens Operasie Askari dood. En daar is nog n paar wat moet bykom, merk iemand op.
    Soveel operasies, soveel plekke, soveel bloed wat gevloei het aan albei kante









    Koerantberig en foto's met erkenning aan Volksblad. 'n Mens wonder wat van luitenant Pietersen se pragtige vrou Desire geword het? Dalk weet iemand waar sy haar bevind? En al die naasbestaandes van die ander jongmanne soos skutter Allan de Klerk van Welkom...? Wat 'n tragiese hoofstuk in die geskiedenis van die Grensoorlog...



    Die 12 valskermsoldate se oorskot is veras en in een kis geplaas. Die begrafnisdiens is by 1 Valskermbataljon te Tempe gehou. Op die koerantfoto's staan skutter Van Niekerk se broer en nog 'n familielid by die kis.

    Die wrakstukke van die Puma wat deur 61Meg herwin is.
    Foto deur Roland de Vries.



    https://www.facebook.com/bothmalj/posts/692271510906730

  8. #98
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    48
    Posts
    891

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 71: “My hart in ook nou in Evale.”


    N Roland se interessante aanbieding is ons honger. Watter interessante ontbyt is daar vanoggend?
    ‘n Groot aluminium pot staan op die tafel. Mieliepap? My mond water. Maar waar is die tuna, ideal milk- en yellow cling peaches? Ek sien le blikke. En die le bottel mayonnaise? Ek kyk in die pot. Lyk na pap, maar ruik na vis? Hierdie brousel is moontlik die moeder van alle jippo guts, besluit ek. Deon Rapport voel ook so. Ons is skielik lus vir nog beskuit. Die ander manne skep in, maar eet langtand.

    “Liewe Vader, vergewe die kokke, want hulle weet nie wat hulle doen nie,” prewel iemand sarkasties.


    Teen tienuur is die skottelgoed gewas en die kamp opgeslaan, maar daar is nog twee seremonies om af te handel voordat ons kan ry. Jaap roep almal bymekaar. Hy het pas ‘n pragtige aandenking uit hout gekerf en Kenneth Schwartz is die gelukkige ontvanger daarvan. ‘n Miniatuur 61 Meg-skildjie en die datum – 13.03.1982 – is daarop aangebring. Dit sal Kenny altyd herinner aan Operasie Super, Blackie se Plek en dat hy op hierdie toer in die geledere van die 61 Meg-veterane verwelkom is.


    “Graham het gevra dat ons hier ook ‘n kruis moet opsit. Is daar enige voorstelle?” vra Jaap.
    “Ja, dit sal vir my ‘n groot eer wees om spesifiek hier ‘n kruis op te sit. Daar is ‘n baie goeie rede hiervoor,” s ek.
    Ons stap na ‘n kremetart so 50 meter suid van die kamp. P.W. bring die Vistenk nader. Ek klim op die dak sodat ek die kruis so hoog as moontlik teen die stam kan vasspyker. Krige en John help my.


    “Hierdie kruis is ter nagedagtenis aan James Conroy en skutter A.P. Manuel, wat op 25 Junie 1982 hier by Evale in ‘n eie magte kontak omgekom het. Maar dit is ook vir die twaalf Parabats in die helikopter wat op 9 Augustus 1982 tydens Operasie Meebos afgeskiet is,” s ek toe die Krige die laaste spyker ingeslaan het.


    Ek skets die tragiese gebeure, toe ‘n peloton van 32 Bataljon en die Parabats op ‘n wintersagtermiddag in 1982 per ongeluk by Evale op mekaar geskiet het. Sersant James Conroy – agterkleinseun van die vermaarde Kaapse rebel, kommandant, later generaal Edwin Conroy – het houtgerus saam met sy swart soldate onder die bome voor een van die geboutjies gesit. ‘n Parabat-peloton onder aanvoering van tweede luitenant Renier Kleinepunte, het van die rivier se kant af tussen die ho gras uitgekom en swart soldate in kamoefleerdrag gewaar. SWAPO?


    In die skietery wat uitgebreek het, is sersant Conroy en skutter A.P. Manuel van 32 Bataljon noodlottig gewond. Gemoedere het na die tyd hoog geloop. Jare daarna was daar steeds kwade gevoelens tussen 32 Bataljon en die Parabats. Die raad van ondersoek het Renier Kleinepunte onskuldig bevind, maar vingers gewys na die Parabats se kompaniebevelvoerder en die spesifieke 32 Bataljon-peloton (Alpha 1). Die tragedie het egter nie hier geindig nie. Die twaalf Parabats wat dood is toe die Puma-helikopter tydens Operasie Meebos afgeskiet is, was ook ses weke tevore hier by die Evale-insident betrokke.


    My gemoed is vol toe ek die storie klaar vertel het. Op hierdie oomblik dink ek aan James Conroy se pa en broer. Hulle het die feite in Die Buffel Struikel gelees en my gekontak. Maar my gedagtes is veral by Renier Kleinepunte. Hy het di dag verjaar toe sy troepe James Conroy per ongeluk doodgeskiet het. As daar een man is wat hierdie tipe toer moet doen om afsluiting te kry, is dit Renier. Ek skakel my selfoon aan. Daar is ‘n effense sein. Ek besluit om Renier te bel.


    “Renier, jy sal nie glo waar ek nou is nie…”


    Skuins na tienuur is ons gereed om te ry – Mupa toe. Andre vra of Roland sy bakkie sal bestuur. Die ding in sy oog pla hom.
    “Geen probleem nie,” s Roland en skuif agter die stuurwiel in. Andre maak hom vir die dag op die agterste sitplek tuis. Ek ry voor by Roland. Toe ons wegtrek is daar ‘n boodskap op my foon. Dit is van Renier:

    "My hart is ook nou in Evale."








    Foto's:
    1. Kruis by Evale vir almal wat in daardie omgewing gesneuwel het.
    2. Die Boerekommandant en -generaal Edwin Alfred Conroy.
    3. James Conroy van 32 Bataljon wat tragies by Evale doodgeskiet is toe eie magte per ongeluk in mekaar vasgeloop het. Edwin Conroy se rol in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) en die Boereopstand (1914-15) word in detail in die boek Rebelspoor bespreek. Die insident tydens die Grensoorlog waar James Conroy die lewe gelaat het, word in Die Buffel Struikel bespreek.

    https://www.facebook.com/bothmalj/posts/692611564206058

  9. #99
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    48
    Posts
    891

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 72: Kerke, Bybels en orrels


    12:00. Sondag, 17 Oktober 2010.


    ‘n Rantjie en klippe regs voor verraai dat ons by Mupa is. Die le dop van ‘n BRDM sal ‘n mooi foto wees, reken almal en gryp na hulle kameras. Soos in elke dorpie in Angola is daar ou en nuwe geboue. Voor die nuutgeboude Palacio Comunal da Mupa wapper die Angolese vlag; ook by die nuwe primre skooltjie ‘n entjie verder. Ook hier by Mupa is ‘n paar straatligte wat met sonpanele werk.


    Ek sien Ted en Efp stop. Ted gee ‘n sak met oorskietontbyt vir ‘n paar opgeskote kinders. Hulle loer met stralende gesigte in die sak.
    “Daar gee die kokke nou hulle brousel weg. Hierdie lot is natuurlik gewoond om enige ding te eet. Hulle sal nooit jippo guts kry nie,” merk ek droog op en loer oor my skouer na Andre. Die ou grote l nog steeds ewe knussig opgerol op die agterste sitplek. Hoe hy dit regkry, weet ek nie; moet erg ongemaklik wees.


    “Ons moet by die kerk uitkom. Daar is ‘n storie oor ‘n orreltjie van die Dorslandtrekkers wat ek julle moet vertel,” s Roland. Ons vra ‘n man langs die pad. Hy beduie ons moet nog ‘n paar kilometer aanhou. By ‘n kruis moet ons links afdraai na die kerk toe. Ek laat Oom Koos per radio weet ons wil by die kerk aandoen. Hy stel die ander drywers in kennis.


    Die kerk het pas uitgekom toe ons stilhou. Nie lank nie of ‘n skare kerkgangers – meestal kinders – drom om ons saam. Ander wat al op pad huis toe was, draai om en kom terug.


    Roland vertel sy storie: “N ‘n ops in 1982 het ek eendag by ons dienspligkapelaan, Koos Rossouw, se kwartiere op Omuthiya verbygestap. Ek hoor hierdie snaakse geluide en daar sit Koos en ‘n paar troepe by ‘n ou traporreltjie en sing. Die tiffies het die ding glo hier uit die Roomse Kerk op Mupa ge-liberate en saamgebring. Brigadier Witkop Badenhorst het daarvan gehoor. Op die ou einde is die orreltjie met ‘n Puma hierheen teruggevlieg. Hier was ‘n ou wit Portugees wat hier iewers by ‘n kraal saam met ‘n swart vrou gebly het. Hy het die kerk opgepas.”


    Ek sien ‘n kind met ‘n groot swart Ombibeli onder die arm; presies s een wat ek in 1978 uit ‘n kerk in Owamboland as aandenking geneem het. Rudolph Burger was by toe ek dit in 2008 – dertig jaar later – aan die regmatige eienaar se weduwee en broer gaan teruggee het.









    Foto bo: Die Kerkklok..





    Foto bo: Kerkparde; Mupa, Junie 1983

    https://www.facebook.com/bothmalj

  10. #100
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    48
    Posts
    891

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog.

    EPISODE 72: SPESIALE BYLAE - Bybel na 30 jaar terug na Omundaungilo


    Hiermee die storie van die Bybel wat ek op 23 Februarie 2008 na 30 jaar gaan teruggee het.
    Ek moes 2 maal heen en weer ry - 10 000 km in totaal.
    Bly ek kon dit doen.


    “Dit is voorwaar ’n geskiedkundige gebeurtenis. Dit is die aanvaarding van mekaar in ’n gemeente wat benvloed is, wie se geliefdes in die grensoorlog dood is en wie se eiendom toe verwoes is. Dit is inderdaad so dat die Bybel mense bymekaar bring.” Eerw. Martin Ngodji van Evangeliese Lutherse kerk van Oniipa en Ondangwa, het Saterdag ges die Bybel is die mees kosbare erfenis wat enige mens ooit kan h.


    “Dit is simbolies van God se teenwoordigheid en beskerming.” Die storie begin op 16 Januarie 1978 toe tweede-luitenant Louis Bothma patrolliewerk by Omundaungilo gedoen het, enkele dae n ‘n skermutseling tussen 32 Bataljon en Swapo. Hy het in die klein Lutherse kerkie (vandag gesloop) ingestap en ’n Bybel en nog ’n klein boekie verlate op die vloer gesien en besluit om dit te vat.


    “Ek is ’n Christen en het daarom besluit om die Bybel te vat. Wat ek daarmee sou maak, het ek nie geweet nie,” het dr. Louis Bothma, wat in Bloemfontein in Suid-Afrika woon, Saterdag aan die gemeente vertel. Dr. Bothma het in 2006 ’n boek Die Buffel Struikel gepubliseer waarin hy terloops hierdie Bybel noem en hoe hy en ’n paar kamerade die plek in 2001 besoek het.


    “Al die tyd het ek aanvaar dat die persoon wie se naam voor in die Bybel geskryf was (Mika Jacob), di van ’n vrou is. Aan die einde van verlede jaar het amptenare van di kerk my egter gebel om my reg te help n hulle my boek gelees het,” het dr. Bothma ges.


    “Meester” Mika was ‘n onderwyser by Omundaungilo. Hy was egter by Onamungodji, sowat 15 km suidoos van Omundaungilo, woonagtig. Sy regte van was Shuudeni. Mika is reeds in 1997 dood, maar sy weduwee, Lydia, en sy broer, Sebulon was teenwoordig om die Bybel, wat in Oshikwanyama geskryf was, te ontvang.


    Die klein boekie wat saam met die Bybel in die kerk gevind was, is ’n boekie met Bybelstories in, en het aan Sebulon behoort. Die oorhandiging van die Bybel was nie net ’n grootse gebeurtenis vir Lydia en Sebulon nie, maar ook vir die ganse gemeenskap. Bykans 200 mense uit die omgewing het die urelange diens en seremonie bygewoon waartydens die Ombibeli teruggegee is.


    Dr. Bothma het in korrespondensie met die kerk ges dat hy nie veel van die Oshikwanyama-taal weet nie en het dus nie geweet wat in die klein boekie gestaan het nie. N hy die Bybel teruggegee het aan die gemeenskap, het hulle dankie ges deur vir dr. Bothma ’n Bybel, wat in Afrikaans geskryf is, gegee. Eerw. Ngodji het in sy voorbereide preek ges God is ’n God van vergifnis en versoening.


    “Hy is die een wat ons vry maak. God se Woord sal vir ewig hier wees. Amen” Agterna het ’n ander eerwaarde, dr. Veikko Munyika, opgemerk. “’n Mens sal altyd wonder of die Bybel tot hier gedra is en of die Bybel die persoon tot hier gedra het.” Omundaungilo is sowat 160 kilometer in ’n noordwestelike rigting vanaf Ondangwa in die Ohangwena-streek gele.











    Fotos bo:
    Louis Bothma: Hierdie is die oorspronklike kerkie op Omundaungilo soos dit tydens die oorlog en nog in 2001 was. Dit is so jammer dat die kerkie toe afgebreek is en toe ek die Bybel uiteindelik aan die regte mense gaan teruggee het, was dit in die nuwe kerk, net langsaan. My ou makker Gert Jacobie staan langs my by die kerk in 2001, soos ek dit in Die Buffel Struikel beskryf het. Mis hom nou sommer. Gert en Lang Swannie (Gerhard Swanepoel wat van Lichtenburg af gekom het) het in Januarie 1978 'n kontak net agter die kerkie met SWAPO se PLAN-vegters gehad.

    http://www.republikein.com.na/politi...jaar.63385.php

    https://www.facebook.com/bothmalj

Page 10 of 23 FirstFirst ... 8 9 10 11 12 20 ... LastLast

Similar Threads

  1. RIP Louis Awerbuck
    By BigT in forum General Discussion
    Replies: 15
    Last Post: 30-06-2014, 10:09
  2. Bothma!!!
    By Brett Nortje in forum General Discussion
    Replies: 1
    Last Post: 09-09-2011, 23:14
  3. Louis
    By Louis Maas in forum Introductions
    Replies: 10
    Last Post: 23-10-2010, 20:17
  4. Dir Bothma out?
    By Karel Kruger in forum Speakers Corner
    Replies: 93
    Last Post: 15-09-2009, 13:45

Posting Permissions

  • You may not post new threads
  • You may not post replies
  • You may not post attachments
  • You may not edit your posts
  •