Page 11 of 23 FirstFirst ... 9 10 11 12 13 21 ... LastLast
Results 101 to 110 of 224
  1. #101
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 73: “Stuur asseblief vir ons geld om die kerk reg te maak.”


    “Kom ons gaan kyk of die ou Portugees nog hier is,” sê Roland. Op pad na die kerk se voordeur sien ek ‘n kanondop wat onderstebo tussen twee pale hang. Natuurlik die kerkklok, besef ek meteens.
    Die eens spoggerige kerk is erg verwaarloos. ‘n Nimmereindigende oorlog, die ongenaakbare elemente, ‘n arm gemeente en Vader Tyd - elkeen het tot die agteruitgang bygedra. Maar aan getroue gemeentelede is daar op Mupa geen tekort nie. Nogal in skerp kontras met die situasie by die huis waar die kerke mooi en die troue broers en susters dikwels min is.


    Heel voor in die kerk is ‘n kruis, met ‘n kunswerk teen die muur wat niemand kan miskyk nie: ‘n Wit Moeder Maria wat haar arms uithou na ‘n swart vrou en haar twee kinders. Die toneel moet iewers in Europa afspeel, want daar is dennebome en ‘n sneeubedekte berg in die agtergrond. Op ‘n effense verhogie is ‘n tafel – seker vir nagmaal? Rye bankies staan vir die kerkgangers uitgepak. Afgesien van die verwaarloosde voorkoms is alles egter baie netjies.


    Ons praat onder die wakende oog van Moeder Maria met Suster Eria Newuluya – ‘n statige ou dame in nonnedrag.
    Sy weet nie wat van die orreltjie geword het nie, want sy is maar nog net twee jaar op Mupa.
    “Wat was die wit Portugees wat gedurende die oorlog hier by die kerk gewoon het se naam?” vra Terence in sy beste Portugees.
    “Quental,” kom die antwoord.
    In hierdie stadium is al wat leef en beef terug in die kerk. Suster Eria en die oudste man in die gemeente sit saam met ons op die verhoog vir ‘n groepfoto. Suster Eria hou ‘n kruis voor haar bors. Net toe ek begin wonder of ons nie die waardigheid van die plek ‘n bietjie aantas nie, bars Jaap by die deur in met sy gebruiklike sak klere. Hy oorhandig dit aan Suster Eria met die opdrag: “Gee dit vir die heel armste kinders in die kerk.”


    Suster Eria rig op haar beurt ‘n versoek: “Stuur asseblief vir ons geld om die kerk reg te maak.” Haar adres: Irma Eria Newoluya, Missão Catolica de Mupa, Caixa Postal 20, Ondjiva, Cunene, Angola.








    https://www.facebook.com/bothmalj

  2. #102
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 74: Operasie Askari - Cuvelai


    Net buite Mupa is konstruksiewerkers besig om ‘n brug te bou. Dit lyk egter of die padwerke, wat ons regdeur van Ondjiva af teëgekom het, hier stop.
    “Hierdie is die oorspronklike ou paadjie wat van bo af kom. FAPLA het daarvan gehou om met die paaie langs te ry, maar ons het ge-bundu bash,” sê Roland toe ons die padwerke agterlaat. Ons stop by ‘n klein shanatjie om na die wrakstukke van ‘n tenk te kyk. Verder noord is heelwat BRDM-wrakke aan weerskante van die pad.


    Net buite Cuvelai – op hoë grond aan die suidekant van die Cuvelairivier – wag ons vir die Vistenk en die agterste voertuie. Op linkerhand is loopgrawe en tenkstellings nog duidelik sigbaar.


    “Jammer Ep van Lill is nie hier om ons oor die Slag van Cuvelai – 4 Januarie 1984 – te vertel nie,” merk een van die 61 Meg-manne op.


    Niemand op die toer is juis ingelig oor wat hier by Cuvelai gebeur het nie. Ep het my egter in breë trekke oor Askari en spesifiek Cuvelai vertel. Dié operasie was glo eintlik bedoel om ‘n uitmergelingsoperasie te wees: Sny die vyand se voorrade af, skiet op hulle, ontwrig en put hulle uit sodat hulle oorgee of padgee. Maar toe is dit einde van die jaar, daar is geweldige druk op Suid-Afrika om uit Angola pad te gee en die politici soek vinnig resultate om vir die mense by die huis te wys. Gevolglik het 61 Meg op 31 Desember 1983 opdrag gekry om Cahama – wes van Humbe – aan te val.

    Aangesien die brug by Xangongo ná Operasie Protea opgeblaas is, moes die geniekorps ‘n Bailey-brug vir Ep-hulle bou om oor die rivier te kom. Cahama is uit die suidweste aangeval, maar FAPLA het met tenks opgeruk en die aanval afgeslaan. 61 Meg wat moes sorg dat hulle eie verliese tot die minimum beperk bly, het drie lede verloor toe ‘n vyandelike mortier ‘n Buffel getref het.


    Dieselfde dag wat 61 Meg se aanval op Cahama afgeslaan is, het Veggroep Delta wat hoofsaaklik uit Burgermaglede bestaan het, ‘n mislukte aanval op Cuvelai gedoen (‘n storie wat nog vertel moet word). Hierop is 61 Meg inderhaas na Cuvelai ontbied en Ep het die bevel oorgeneem. Sy manne moes al die pad van Xangongo na Cuvelai bundu bash, maar op 3 Januarie 1984 was hulle reeds met die vyand slaags. Die volgende dag het 61 Meg Cuvelai uit die suide aangeval en gevat – ondanks reën, mynvelde en Russiese tenks. ‘n SAM-8 lugafweerstelsel was onder die buit. Daar is egter duur vir Cuvelai betaal, want ‘n Ratel is uitgeskiet en agt man het dié dag gesneuwel.


    “Na die geveg was die troepe vodde. Jy moet onthou ons moes al die pad van Cahama af kom om Cuvelai te kom verower. Die aand elfuur het Joep Joubert vir ons koue bier, sigarette en koeldrank ingevlieg,” het Ep my vertel.












    Fotos: Russiese tenks wat by Cuvelai gebuit is - met erkenning aan Alfred Muller. Koerantfoto's van die volgende soldate wat tydens Operasie Askari gesneuwel het: Pieter Liebenberg (Pretoria), W.T. Steenkamp (Strand), G.A. Lennox (Brandfort); die Ratel wat uitgeskiet is. Met erkenning aan Volksblad.

    https://www.facebook.com/bothmalj/posts/694428654024349

  3. #103
    User
    Join Date
    Jun 2014
    Location
    Pretoria
    Age
    65
    Posts
    899

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    Dankie vir die stories. Ek was deel van Askari maar dit is n storie vir n ander dag. Het met Ep ingevlieg toe hy oor vat.

  4. #104
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog.

    SPESIALE BYLAE: "DIE NUWE SUID-AFRIKA"


    Ek verwys dikwels na die "Nuwe Suid-Afrika van 1910". Dit is vir mense, wat net geprogrammeer is om te dink in terme van die "Nuwe Suid-Afrika van 1994", totaal vreemd. Net so vreemd is dit vir mense om hier te lees van 'n Eerste Grensoorlog (1902-17) en 'n Tweede Grensoorlog (1966-89).


    Dit is begrippe wat in geen geskiedenisboek oor die Grensoorlog voorkom nie. Derhalwe die onkunde, wanbegrip en frustrasie oor waarmee presies ons - die grensoorloggenerasie - in ons leeftyd te doen gehad het. Sonder kennis van die komplekse historiese aanloop van die konflik waarby ons betrokke was (1966-89), sal ons eenvoudig nooit verstaan hoekom ons in die situasie is waar ons nou is nie.


    Ek het al heelwat verwys na die Eerste Grensoorlog waartydens Portugal en Brittanje as koloniale magte "die Boere" gebruik het om die Ovambo's aan weerskante van die grens aan koloniale gesag te onderwerp. Vandag laai ek bewyse op van die Nuwe Suid-Afrika van 1910. Mense ken waarskynik net die naam Unie van Suid-Afrika, maar weet nie dat ook daarna as "Nuwe Suid-Afrika" verwys is nie en dat dit bedoel het Brits-Suid-Afrika. Na die Anglo-Boereoorlog het ons almal in hierdie land Britse onderdane geword wat moes dink en doen soos Imperiale Brittanje.
    Dit het behels:
    1. Britse parlementere stelsel
    2. Britse militêre stelsel.


    Die bladsy hierby aangeheg wat in 1909 die eerste maal (1919 was al die vyfde druk) in 'n laerskool handboekie in die destydse Nederlandse taal verskyn het, laat geen twyfel oor wie die "fondamente" van Die Nuwe SA van 1910 gelê het nie - lord Milner! Milner was by uitstek die een man wat die oorlog teen die Boere aangestig het. Die grondwet van daardie nuwe SA van 1910 was bekend as die Zuid-Afrika Wet van1909. Dit was die fondament van apartheid wat bepaal het dat swart mense in hierdie land nie politieke regte het nie en apart gehou moes word wat woon- en werkplek betref ens.


    Hierdie grondwet is deur die Britse parlement in Brittanje goedgekeur en toe deur die Britse koning, Edward VII, onderteken en bekragtig. King Edwardweg in Bloemfontein is na hom vernoem. Terwyl Afrikaanse straatname voor die voet verander word omdat dit glo apartheid is, bly King Edwardweg onaangeraak. Die blaam vir apartheid word volledig op Verwoerd (1948) en die Afrikaner gepak - net soos ons as die skuldiges voorgehou word wat betref die latere Grensoorlog. Dit terwyl die Boere in 1914-15 in opstand gekom het omdat hulle nie Suidwes-Afrika (vandag Namibië) vir Brittanje wou gaan roof nie.


    Ons geskiedenis moet oorgeskryf word - nie om nou weer, soos destyds toe ons kinders was, politiek-korrek te wees, in pas met die politiek van die tyd nie - maar om die waarheid te reflekteer. Histories korrek.


    Ons het baie stokke om mee terug te slaan, maar ons weet nie van hulle nie omdat ons nie die geskiedenis ken en verstaan nie. Ons moet die mites oor die verlede openbaar: Daar was nie net een Grensoorlog nie. Daar was nie net een Nuwe Suid-Afrika nie. Verwoerd is nie die sogenaamde vader van apartheid nie. Die ANC het nie swart mense in hierdie land leer stem nie...





    https://www.facebook.com/bothmalj/posts/694755700658311

  5. #105
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 75: Koebaai Cuvelai


    Die vyand se teenstand by Cahama en Cuvelai was egter ‘n waarskuwing aan die Suid-Afrikaanse Weermag. In die toekoms sou dit al moeiliker word om teikens diep in Angola aan te val en te verower.


    Ná Operasie Askari was Suid-Afrika onder nóg meer internasionale druk om uit Angola pad te gee. As uitvloeisel hiervan het Suid-Afrika en Angola die sogenaamde Lusaka-ooreenkoms gesluit. Suid-Afrika sou onttrek as verseker kon word dat SWAPO nie die gebied beset nie.
    Angola en Suid-Afrika het naamlik ‘n Gesamentlike Monitor Kommissie (GMK) gestig wat op 25 Februarie 1984 sy eerste sitting op Cuvelai gehou het. Kolonel Johann Dippies Dippenaar was die voorsitter van die Suid-Afrikaanse komponent, wat saam met sy FAPLA-eweknie moes toesien dat die Lusaka-ooreenkoms uitgevoer word.


    Dié vredesinisiatief sou die voorspel wees tot die implimentering van die Verenigde Nasies se Resolusie 435; ‘n internasionaal aanvaarde onafhanklikheidsplan vir Suidwes-Afrika / Namibië waartoe Suid-Afrika hom reeds in 1978 verbind het. Suid-Afrika se volgehoue eis dat die Kubane ook uit Angola moet padgee en die feit dat SWAPO en UNITA nie die Lusaka-ooreenkoms onderteken het nie, het hierdie halfgebakte vredespoging egter laat skipbreuk lei.


    Daar is ongelukkig ook nie tyd om in Cuvelai rond te kyk nie; net tyd vir ‘n paar foto’s sommer so in die ry. ‘n Bordjie op regterhand dui aan dat die brug oor die Cuvelairivier slegs ‘n kilometer ver is. ‘n Bus kom van vooraf verby. Voor ons is ‘n erg verwaarloosde laagwaterbruggie oor ‘n stroompie. ‘n Paar swartes wat aan ‘n bakkie werk, kyk nuuskierig hoe ons voertuie een vir een oor die bruggie sukkel.






    Foto's bo: Gebuite voertuie, Cuvelai. Met erkenning aan Alfred Muller.


    https://www.facebook.com/bothmalj

  6. #106
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 76: FAPLA-konvooi in die doodsakker


    Ek verkyk my aan die pragtige woude om ons, maar sien of hoor nie ‘n enkele dier of voël nie. Nét wrakke wat die pragtige natuur ontsier. “Hierdie is ‘n wraktuin, nie ‘n wildtuin nie,” het Deon Joubert al die treurige toestand beskryf.


    Vieruur die middag hou ons by ‘n uitgebrande wrak stil. Dit was eens op ‘n tyd ‘n trok; FAPLA se ammunisietrok wat Jan Malan-hulle in Augustus 1982 voorgelê en uitgeskiet het. Die kajuit en bak lê so tien meter uitmekaar (S 15°33.767'; O 15°51.551').


    “Jan Malan het my vertel twee genietroepe het myne op die pad gelê. Toe die hinderlaagstelling net mooi voorberei en almal posisie ingeneem het, het die twee sappers vir Jan gesê hulle het vergeet om die myne te bewapen,” vertel Jaap.
    “Ek was die volgende oggend saam met Neall Ellis in die gunship hier. Hier het nog ‘n paar FAPLA’s rondgehardloop. Ons ouens het hulle doodgeskiet. Die res van die FAPLA-konvooi het probeer omdraai, in die bosse ingery en hulle voertuie omgemoer. Die gunships het hulle uitgeskiet. Ek was saam en dit was ‘n onvergeetlike ervaring. Ons het 18 voertuie met die pad langs getel wat daai dag uitgeskiet is,” voeg Roland by.


    Twee swartes van ‘n nabygeleë kraal kom nader terwyl ons die area fynkam vir doppies en skrapnel. Graham en John sit ‘n kruis teen ‘n groot boom aan die westekant van die pad vas. Dit is ter nagedagtenis aan wie ookal in die hinderlaag en opvolgoperasie gesterf het.




    Hier is die name van die manne op die foto. Voor: Krige Van Heerden, Deon Joubert en Mike Beyl. Agter: Efpe Senekal, Rudolph Burger, Louis Bothma, Roland de Vries, Graham Dickson, Koos Moorcroft, John McMahon, Jaap Minnie Steyn, Terence Doyle, Camille Burger, Dave Fell en Kenneth Schwartz.







    Foto bo: Roland de Vries: "Captain Jan Malan approaches me after a successful ambush with a Russian Ural spoil of war (PhotographMichiel Reinecke)."





    https://www.facebook.com/bothmalj

  7. #107
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 77: Kamp opslaan is kinderspeletjies


    “Ons stoot maar nog ‘n ent aan en kyk vir ‘n kampplek,” sê Oom Koos.
    Die hele konvooi kom weer in beweging. Die bos is nie net digter nie, maar ook aansienlik groener. Die reënseisoen begin Novembermaand in Angola, maar hier moes al ‘n paar buie uitgesak het. Ons tel die wrakke langs die pad; oorblyfsels van die konvooi wat deur die gunships uitgeskiet is. Dit is ongelooflik dat die bewysstukke van dit wat daardie dag gebeur het, steeds hier in die bosse is.


    “Sien jy nou, ek het nie vir julle gelieg nie,” sê Roland, terwyl ons by die wrak van ‘n geel kruiptrekker verbyskuur - seker nie deel van die konvooi gewees nie. Maar ek herinner my daar was gedurende Operasie Savanna ‘n gevaarte wat as die “Luso Monster” bekend was. Toe ons magte die ding uiteindelik uitskiet, sou hulle vind dit is ‘n kruiptrekker wat soos ‘n tenk omgebou is. ‘n Goeie vriend, Robbie Blake, het my foto’s gewys.


    Ons kampplek (S 15°26.539'; O 15°55.923') vir die nag is oos van die pad – iewers tussen Cuvelai en Tetchamutete. Dit is nie ‘n baie mooi plek nie, maar veilig. Oom Koos wil nie kanse vat en oor ‘n verdwaalde myn ry nie.


    Teen hierdie tyd is kamp opslaan kinderspeletjies. Gou-gou staan die tente en kuier die manne rondom ‘n droë sementkrip. Dit moes een of ander landbouhulpprogram gewees het wat nie uitgewerk het nie, want die krip is skaars ‘n jaar oud. Dit lyk egter nie of dit ooit ‘n druppel water gesien het nie.


    “Manne, ou Jan Malan-hulle se ammo het opgeraak by die hinderlaag. Kyk net met wat moes hulle die ters skiet,” sê ek en kom met iets in my hand nader. Almal is die ene belangstelling, totdat ek my hand oopmaak en hulle twee windbukskoeëltjies sien.


    Niemand het jippo guts van die oggend se eienaardige ontbyt gekry nie. Ek deel hande vol rosyntjies uit – vir almal wat met harde mae sukkel.




    Foto: Koos Moorcroft, Jaap Steyn, Rudolph Burger en Roland de Vries (geneem deur die skrywer).



    Louis Bothma: "Vandag 'n bietjie rustiger na al die bloed en derms van die afgelope ruk. Ons is by ons agste kampplek van die toer - ons derde aand in Angola. Volgende wat ons aandoen is Techamutete en dan die bekende Slag van Cassinga wat gedurende Operasie Reindeer in 1978 plaasgevind het. Ek skat ons is nou - na 77 episodes - min of meer halfpad..."







    https://www.facebook.com/bothmalj

  8. #108
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 78: Apocalypse Now


    Die maan skyn helder. Ek hoor Jaap in die tent langsaan snork. Iewers bulk ‘n bees. Ons is naby ‘n stat en ek verwag die honde sal in die kamp kom rondsnuffel.
    Die slaap bly weg. Dit was weer ‘n lang dag. My kop wil nie afskakel nie. Ek dink aan Renier Kleinepunte – die helikopter wat met sy troepe (parabats) neergestort het.


    In die stil Angola-nag eggo Renier se woorde in my ore: “Ons hoor die skote. En toe ek so uitkyk, sien ek ‘n miljoen swartes onder ons. Ek sien die ander helikopter se stert vlieg. Ek sien hom so, hoe breek hy so weg. Alles gebeur in slow motion. En die helikopter begin tol en die troepe val uit. Toe die helikopter die grond slaan, ontplof hy op impak. En toe is daar so ‘n swart rookkolom wat reguit die lug in trek.”


    In die helikopter waarin Renier was, is Johan van Antwerpen se been afgeskiet. Dat Renier nie in die ander helikopter was wat afgeskiet is nie, is ‘n geheim wat hy nog altyd in sy binneste opgekrop het.
    Dit het só gekom: Die roepseine van die helikopters was 61 Alpha en 61 Bravo. Die peloton was in twee gedeel – ‘n stick saam met Renier en een saam met korporaal Lombard, die pelotonsersant. Renier het 61 Alpha gekies, want hy kies altyd die eerste opsie. “Kop of stert?” Dan kies Renier “kop.” Maar toe die helikopters kom land om hulle te troepeer, was 61 Bravo die naaste aan Renier. Toe breek hy sy eie reël en kies 61 Bravo. Hy stuur korporaal Lombard met die ander helfte van die peloton na die verste helikopter, 61 Alpha. Net om minute later te sien hoe hulle in vlamme afgeskiet word…


    Ek visualiseer hoe die helikopter met Renier se troepe tussen die vyand neerstort. Beelde van die Viëtnam-fliek, Apocalypse Now, diep voor my op.


    Ek sluimer in. Choppers vlieg oor ons kamp en kom land. Die mal kolonel van Apocalypse Now klim met sy breërand hoed uit; kaalbolyf. ‘n Mortier ontplof agter hom, maar hy lag dit af. Twee Mirages skeur die lug. Sekondes later gaan die bosse in vlamme op.
    “I love the smell of napalm in die morning,” sê die koekoes kolonel vir my in die maanskyn...


    Gaan kyk die Youtube videogreep van Apocalypse Now by die volgende skakel: https://vimeo.com/6159478






    Foto van kruis: Geneem deur Fanie Buys van PE, Oktober 1983, Ondjiva. Die kruis is nou in die Lugmagmuseum by Swartkops, Pretoria.
    Woorde van The End, uit Apocalypse Now, op foto bygevoeg deur skrywer.


    https://www.facebook.com/bothmalj

  9. #109
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 79: Ou bosdissipline skop in


    Dit was my beurt om ‘n slegte nag te hê. My kop was te besig. Toe Rudolph ‘n uur voor dagbreek opstaan om ‘n draai te stap, kan ek nie weer aan die slaap raak nie. Ek dink aan die dag se program. Ons gaan Cassinga toe. Ek kan nie wag om dié plek te sien waaroor ons weermag destyds so baie gespog, SWAPO so baie gal oor gebraak het nie.


    Ted en P.W. is vroeg besig met ontbyt. Ek het ‘n bottel ordentlike koffie saamgebring waarmee ek suinig is.
    “Kan ek nie vir julle manne lekker koffie maak nie?”
    “Ja, dit sal baie lekker wees. Hier is ons bekers,” sê die twee manne wat ons seuns kon gewees het – vasberade om ons met die middele tot hul beskikking op die beste moontlike ontbyt te trakteer. Ons drinkwater is min, ons is vuil en ver van die naaste groot dorp. Warm koffie en ‘n lekker ontbyt verander die hele prentjie sommer dadelik.


    Ou bosdissipline skop in. ‘n Offisier het altyd ‘n pen by hom; is in alle omstandighede in beheer van die situasie. Jaap haal ‘n borsel en politoer te voorskyn en maak sy skoene skoon. Ek en Roland skeer, ons lae watervoorraad ten spyt. Minder as ‘n halwe fire-bucket water is genoeg om gesig te was, tande te borsel en met ‘n kwas en seep te skeer. En dit maak die wêreld se verskil aan ‘n mens se gemoedstoestand.


    Jaap lei die gebruiklike oggendgodsdiens en kom met nóg ‘n ou weermagdril vorendag: Eerste parade op al die voertuie. In die proses kom ons agter Ted se Land Cruiser, wat die kombuiswaentjie sleep, se trekstang is besig om los te kom. Dit sal in Menongue herstel moet word. Tot tyd en wyl moet die Vistenk die kombuiswaentjie sleep. Die waentjie met die bagasie word agter Terence se voertuig gehaak. Oom Koos se Land Cruiser het hopeloos teveel olie in sy enjin. Gelukkig het ons ‘n plaasboer, Rudolph Burger in ons geledere. Hy hou sy lyf tiffie en tap die oortollige olie af.


    Intussen het iemand iewers ‘n beeskopbeen opgetel. Ted het dit netjies aan sy Land Cruiser se bosbreker vasgesit. Maar voor hy Bulls op die kopbeen kon skryf, het Mike Moertoe ‘n 61 Meg-skildjie daarop geteken.






    Foto's bo: Ons kokke en drywers: Ted Liebenberg en P.W. de Wet. En Rudolph Burger hou sy lyf tiffie.
    Foto's die skrywer.






    https://www.facebook.com/bothmalj

  10. #110
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 80: Tetchamutete toe


    Net na agtuur val ons in die pad. Ek en Roland is terug in die Vistenk. Ons mis die ander lot se geselskap. Daarby voel ons dit is twee ander ouens se beurt om saam met Andre te ry.
    Na so twintig kilometer sien ons ‘n reeks koppies aan die oostekant. Ons moet naby die ou myndorpie, Tetchamutete wees. Voor die oorlog is hier ystererts gemyn, wat per spoor na Jamba en verder noord vervoer is. Toe die burgeroorlog uitbreek, het alles egter tot stilstand gekom. FAPLA en ‘n groep Kubane het die dorp beset.


    Ek stuur twee gelamineerde foto’s in die Vistenk rond. Op foto 1 sit twee 32 Bataljon-troepe agter ‘n Russiese 23 millimeter lugafweerkanon. Dit is nie moeilik om te raai waar dié foto geneem is nie: Op die hoogste kop aan die oostekant van Tetchamutete waar mynbouaktiwiteite duidelik sigbaar is. Foto 2 is ‘n Russiese T54-tenk wat in die modder vasgeval het. In die agtergrond steek Tetchamutete se koppies onder ‘n lae wolkbank uit, ‘n droë boom staan links op die voorgrond en regs op die foto is krale.


    “Kom ons kyk of ons die plek kan kry waar die tenk vasgesit het,” stel ek voor. Soos ons ry vergelyk ons die foto met die omgewing oos van die pad.
    “Stop! Stop! Hier is die plek. Kyk, daar lê die droë boom. Dit het omgeval. En daar is die krale,” beduie Mike opgewonde. Ons klim uit en bestudeer die omgewing. Dit is 26 jaar later. Niemand kan met sekerheid sê of dit die presiese plek is nie, maar ons moet baie naby wees, meen Blackie.






    Foto's: 1. Ons vergelyk die omgewing met die plek waar die tenk in die modder vasgesit het.
    2. Die omgewing, 'n ent verder aan, by Techamutete self. (Foto's die skrywer)




    https://www.facebook.com/bothmalj

Page 11 of 23 FirstFirst ... 9 10 11 12 13 21 ... LastLast

Similar Threads

  1. RIP Louis Awerbuck
    By BigT in forum General Discussion
    Replies: 15
    Last Post: 30-06-2014, 10:09
  2. Bothma!!!
    By Brett Nortje in forum General Discussion
    Replies: 1
    Last Post: 09-09-2011, 23:14
  3. Louis
    By Louis Maas in forum Introductions
    Replies: 10
    Last Post: 23-10-2010, 20:17
  4. Dir Bothma out?
    By Karel Kruger in forum Speakers Corner
    Replies: 93
    Last Post: 15-09-2009, 13:45

Posting Permissions

  • You may not post new threads
  • You may not post replies
  • You may not post attachments
  • You may not edit your posts
  •