Page 2 of 23 FirstFirst 1 2 3 4 12 ... LastLast
Results 11 to 20 of 224
  1. #11
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 5: Eerste aand om die vuur


    Na ete ontspan ons om die vuur. Party klets in groepies; ander staar sommer net in die kole en geniet dit om niks te sê nie. Dit was ‘n lang dag. Môre wag nóg ‘n lang skof tot in Windhoek.


    Niks is so lekker soos tee uit ‘n army fire-bucket nie. En as die water boonop op kameelhoutkole gekook het, is dit met ‘n soort heiligheid beklee wat nie almal beskore is om te verstaan nie. So glo ek. Ek krap die mooiste kole eenkant toe en sit my fire-bucket neer. Die water sal gou kook.


    “Kook die water nog nie?” vra Jaap ‘n rukkie later.


    Ek kyk. Nie eens ‘n wasempie nie. Yskoud. Ek krap nóg kole nader. Nou weer Rudolph wat lastig is. Ek loer weer na die fire-bucket. Die water bly koud. Kan nie wees nie. Die kole is só warm dat ek dit nie vir langer as drie sekondes naby die fire-bucket kan waag nie.
    Meteens is dit stil om die vuur. Almal staar na my wat half-desperaat nóg kole probeer nader krap. Ek ruik lont. “Wat de bliksem gaan hier aan?” John bars uit van die lag. Terwyl Jaap en Rudolph my besig hou, gooi hy kort-kort ys in die water.


    Uiteindelik kan ek ook ongesteurd, tee in die hand, in die kole staar. Bokant ons is die hemel oop en wyd. Ek is nie die enigste een wat my aan die duisende sterre verwonder nie. My kop loop ver paaie. Ek wonder hoe gaan dit by die huis? Dit is nie maklik om byna drie weke weg te wees nie. Baie dinge kan skeefloop. Wat gaan die toer alles oplewer? Ek wil feite insamel en by plekke kom waar ek nog nie was nie. ‘n Navorser móét op die terrein kom. Jy kan hoeveel foto’s en kaarte bestudeer, al die gesaghebbende boeke en dokumente oor ‘n veldslag lees, maar as jy nie met die bodem en die mense kontak gemaak het nie, bly jou navorsing halfgebak.


    Ek teug die laaste bietjie kosbare tee tydsaam weg, en wonder: Het ek nie miskien te veel oor myself uitgelap met die bekendstellery nie? Maar my openhartigheid moes iewers iets in ou groot Andre Bezuidenhout se siel geroer het. Hy het my na die tyd eenkant toe geroep: “Ek en jy moet praat.”


    Ek stap kraan toe en spoel die fire-bucket uit. Almal het gesê wie hulle is, wat hulle doen en waar hulle woon, maar min oor waarom hulle eintlik op die toer is. Efpé gaan saam omdat hy ‘n film oor die Grensoorlog maak. Deon Lamprecht moet ‘n storie vir Rapport skryf. Maar so simplisties kan dit nooit wees nie. Daar is ‘n dieper, allesomvattende rede, daardie een gemene deler tussen ons almal: Die Grensoorlog.


    Niemand stap sommer net só, ongeskonde, van ‘n oorlog af weg nie…



    https://www.facebook.com/bothmalj?fref=nf

  2. #12
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    EPISODE 6: Cuito Cuanavale in Gobabis
    Dit is lekker om met die Kalahari, in plaas van die Briels, in jou kop wakker te word.
    Terwyl die son sy pad boontoe deur die kameeldorings se takke brand, draai die laaste reëltjies van ‘n gediggie oor die Kalahari in my kop: "Soos ‘n jakkalsvoël die dun lug skeur, sweef ek nag vir nag my drome deur. En smôrens teen die voordag, kameelhoutkole in my oë, weet ek dis die rooidag".


    Ons staan in ‘n kringetjie voor die Vistenk. Jaap lees vir ons uit ‘n boekie, Geheime van ‘n Vrygewige Lewe.
    “Ons kan meer geld maak, maar ons kan nie meer tyd maak nie. As ons net vyf minute aan ons medemens afstaan, gee ons ‘n stukkie van ons lewens aan ander,” sê Jaap. Hy bid en vra dat ons veilig in Windhoek sal aankom.


    Ontbyt is weer langs die pad. Mike Moertoe se maag het tot stilstand gekom; myne ook. Die groot afstande en aanhoudende sittery in die Vistenk werk nie.


    “Moenie worry nie, ou Mike. Ek het groenvoer vir ‘n maag wat nie wil werk nie,” sê ek, en haal pakke rosyne, droë pruime en gemengde droë vrugte te voorskyn. Dit laat sweet op Mike se voorkop uitslaan.
    Roland het las van ‘n seer rug. Ek ook. Ek wys hom wat ek elke oggend doen. “Jy moet so effens wydsbeen staan en jou voete probeer raak. Linkerhand op regtervoet en regterhand op linkervoet. So swaai jy jou arms en raak jou voete – soos ‘n windmeul,” beduie ek. Roland probeer.
    “Dit werk nogal. My rug voel sommer beter!”
    “Sien jy. Ek sê jou mos. Doen dit elke oggend as jy opstaan.”


    By die Trans-Kalahari-grenspos na Namibië kry ek kans om Krige van Heerden beter te leer ken. Hy het diensplig by die Genieskool in Kroonstad gedoen, maar ook ‘n basiese valskermkursus in Bloemfontein voltooi. Hy is steeds by die Burgermag betrokke en tans senior stafoffisier by spesmagte brigadehoofkwartier in Pretoria. “Ek het my eie ingenieurspraktyk,” vertel Krige.

    Ons gesprek raak ‘n voortsetting van ‘n ellelange debat wat ons in die Vistenk oor die misdadige toestand in ons land voer. “Ek is al twee keer gekaap én geskiet,” sê Krige en wys my die littekens.


    Selfoonontvangs! Almal bel huis of kantoor toe.
    “Manne, Gert Minnaar sê daar was moeilikheid by De Wildt. Gholf Ses en sy pêl het R300 se skade aan die hek aangerig. Maar dit is klaar uitgesorteer. Hulle sal betaal,” kondig Jaap aan.


    Ons gooi op Gobabis brandstof in. Elke kleur en geur praat Afrikaans; meer Afrikaans as in Suid-Afrika self. Die mense waai vir ons. Wat hulle aanbetref is die ouens in die snaakse lorretjie op ‘n moerse jollie op pad iewers heen. Ons besluit om sommer middagete in dié vriendelike dorp te geniet.


    “Stop, stop!”
    P.W. trap hard rem. “Wat gaan aan?”
    “Daar is Cuito Cuanavale!”
    Mike Moertoe beduie na ‘n straatnaambordjie. Dit is nou interessant. Wonder wie in hierdie dorp was al daar of weet waar presies dit is? Maar ons is op pad soontoe. P.W. moet die Vistenk langs die bordjie trek sodat ons foto’s kan neem.



    https://www.facebook.com/bothmalj/po...160744117807:1

  3. #13
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    EPISODE 7: Camille kom in Walvis aan vir Basies
    Dit is nog ver Windhoek toe en kokend warm. Gobabis se bier het ons lui gemaak. Dit is moeilik om in die Vistenk se regop stoele aan die slaap te raak. Ons weet nog nie lekker hoe nie; wil ook nie slaap en in die proses iets misloop nie. Die gesprek gaan nou oor berugte sammajore – Jack Pierce, Rooi John Kruger, Killer Smit… (Elke Smit in die army was mos Killer Smit).


    “Wie van julle ken sammajoor Reckless van der Merwe?”
    “Van Walvisbaai? Maar is hy nie oorlede nie?” vra Roland.
    Ek weet nie; kan net onthou ons was een Kersfees op Katima, toe iemand ‘n kat in die kroeg geskiet het. Die volgende oggend het Reckless die hele Katima op parade gehad. Toe sê hy vir ons: “Daai man wat daai kat daar geskiet het, jy sal hom optel, sonder sout, en op ‘n ander plek gaan wegsmyt.”


    “Julle sal my fokkol van Walvisbaai vertel,” sê Camille, wat andersins nie baie praat nie. Hy en sy broer Rudolph was in Potchefstroom op skool. Rudolph, die oudste, is 1 Verkenningskommando toe. Camille is in Januarie 1977 Walvisbaai toe. Hy onthou presies: “Vier dae met die trein en 2 222 kilometer van Brandfort-stasie af.”
    By elke plek waar die trein gestop het, is hulle die strate en kroeë in – Bloemfontein, Noupoort, De Aar, Upington. Hulle is in die nag oor die grens na Suidwes. “Ka-ras-burg! Ka-ras-burg!” het hulle die volgende oggend geskree en teen die treinwaens geslaan. By Rehoboth het hulle hul verwonder aan die “ligbruin mense met hulle blou oë.” Toe “Wind-hoek! Wind-hoek!” En daar in die Thüringer Hof Hotel het die spulletjie hulle aan Windhoek Export vergryp.

    Dit was een groot opbou – na ‘n verskriklike anti-klimaks.

    Die volgende oggend het hulle op ‘n stil plek wakker geword. Doodse stilte. Nét leë bierbottels wat luierig in die trein se gangetjies rondgerol het. Camille, wat op die middelste bank op vensterhoogte geslaap het, het na buite geloer.
    “Wat de fok…?”
    Niks. Nét grys. En die trein wat stadig, byna spookagtig, vorentoe en agtertoe beweeg het. ‘n Naambordjie deur die grou: Swakopmund Stasie. Een na die ander het die manne hulle koppe deur die vensters gehang. Toe het die trein stadig weggetrek, maar nooit spoed opgetel nie. Aan die een kant was die duine, aan die ander kant die see, en op die spoor ‘n eensame trein in die mis op pad na Walvisbaai.
    “Dertig kilometer wat twee ure geduur het. Twee ure van stilte. Die langste twee ure van my lewe,” vertel Camille, wat by 2 SDB se D-Eskadron op Rooikop beland het. Later het hy Staande Mag aangesluit en saam met Jaap Steyn vormingskursus gedoen.


    Die twee Burger broers, met die skrywer in die middel.


    https://www.facebook.com/bothmalj

  4. #14
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    EPISODE 8: Die geskiedenis van Windhoek… en ons 2de kampplek


    16:00. Die namiddagson vat net mooi dooierus toe ons Klein Windhoek binnery.
    “Hoekom noem hulle dit Klein Windhoek?” vra iemand.
    “Die deel aan die oostekant van die berg is Klein Windhoek. Dit is waar die plek begin het. Aan die anderkant van die berg is Windhoek se middestad en ‘n klomp woonbuurte aan die suide-, weste- en noordekant. Maar alles is deel van Windhoek, Namibië se hoofstad,” probeer ek verduidelik.


    Soos ek dit het, was Klein Windhoek toentertyd bekend as Ai-gams, todat die Oorlams-kaptein, Jonker Afrikaner, hom in 1840 hier gevestig het. Op skool het ons van die Voortrekkers geleer wat deur die oostelike en sentrale binneland van Suid-Afrika getrek, met Zoeloes en Matebeles gebots, en uiteindelik Boererepublieke tot stand gebring het. Maar daar was nóg ‘n groep mense wat uit die Kaap weggetrek het – die Oorlamse. Hulle het baie gemengde bloed in hulle are gehad, maar het ook Hollands gepraat en was goeie skuts en ruiters. Hulle moet egter nie met die Basters van Rehoboth verwar word nie.
    Die Oorlamse (vyf groepe) het langs die Weskus opgetrek, die Oranjerivier oorgesteek en hulle op verskillende plekke in Namibië, toe skaars bekend as Suidwes-Afrika, gevestig. Die Afrikanerstam van Jonker Afrikaner was die voorlopers van hierdie Kaapse immigrante, wat met inheemse groepe soos die Nama, Bergdamara, Herero, San en ander in aanraking en botsing gekom het.


    “Hier het baie bloed gevloei. Jonker Afrikaner het honderde, miskien duisende, Herero’s uitgemoor en troppe bees gesteel. Hy het die gesteelde beeste vir vuurwapens en drank geruil en ‘n pad deur die Auasberge vir die transportwaens laat bou. Hierdie omgewing waar ons nou ry, het Jonker glo aan die Winterhoekberg en Tulbagh, waar hy opgegroei het, laat dink. Toe noem hy dit Windhoek. Dit is hoe die plek sy naam gekry het,” vertel ek.
    “Ek het dit ook maar gelees en hoop my feite is reg,” voeg ek by; bang die ander dink ek probeer my slim hou.


    Camille is baie geïnteresseerd. Ter wille van hom vertel ek van Hendrik Witbooi, wat later die Afrikanerstam onder Jan Jonker (Jonker Afrikaner se seun) feitlik heeltemal uitgewis het. Toe kom die Duitsers en onderwerp die mense van hierdie land aan hulle gesag, net soos die Engelse in Suid-Afrika gedoen het. In Suid-Afrika was dit die Boere van Transvaal en die Vrystaat teen die Engelse (1899-1902), hier die Herero’s en die Namas teen die Duitsers (1904-8).
    “Dit is hoekom Hendrik Witbooi, Samuel Maharero, Jacob Marenga en ander ouens helde in hierdie land is. Hulle het teen kolonialisme geveg, soos ons eie De Wet en De la Rey.”


    Teen die tyd dat ek en Camille Namibië se geskiedenis uitgesorteer het, is ons al aan die suidekant van Windhoek waar die westelike verbypad begin.


    ‘n Blok van ‘n man in ‘n Land Rover wag ons in; ons gasheer.
    “Volg my.”


    Ons draai op ‘n grondpaadjie af waar kinders perdry en motorfietse die aarde onder stof jaag. Die Vistenk bokspring deur ‘n sloot en teen ‘n kliprantjie af. Voor ons is ‘n kaal lappie grond. Regs is ‘n braaiplek, twee afdakkies, ‘n watertenk en ‘n buitetoilet en –stort. Links is die sloot en ‘n paar bome. Dis al. Net ‘n speelplek waarheen die manne vlug om vinnig uit Windhoek weg te kom, lei ek af.


    Koos Moorcroft, ons toergids van Africa Bushcraft and Survival Adventures, en ‘n uitsoekgroepie wag ons in.
    “Dit is bliksems Thys Rall daai!” skree Roland uitgelate toe hy ‘n skraal kêrel gewaar. Thys, ook ‘n oudsoldaat, was destyds tweede-in-bevel toe Roland 61 Meg se bevelvoerder op Omuthiya was.


    Ons skud hande met ons gasheer, Frank van Zyl. Hy is ook ‘n 61 Meg-veteraan en eienaar van ‘n Engen-vulstasie in Hochlandpark. Hy beduie ons na sy veldkroeg waar sy manne gereedstaan om ons te bedien – yskoue bier, droëwors en biltong. ‘n Skaap lê oopgespalk en wag om gespit te word. Twee groot bruin honde – een ‘n pragtige rifrug, die ander ‘n brak – vleg tussen ons deur.
    Frank gee ons elkeen ‘n Friends of 61 Mech kêps; ‘n Kubaanse ontwerp met die Namibiese vlag op. Dit bied dadelik lafenis teen die ongenaakbare son, wat sy laaste kans op ons vat voordat dit agter ‘n hoë rantjie wegsak.



    Die uitsig oor Windhoek


    https://www.facebook.com/bothmalj/po...852170715331:1

  5. #15
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…



    EPISODE 9: Met SWAPO om die vuur


    Ons word amptelik verwelkom deur Koos Moorcroft, oudverkenningsoldaat en later sersant-majoor van die Leër. Hy is kort, netjies soos ‘n mens van ‘n sammajoor van sy statuur sou verwag en lyk uitstekend vir ‘n man in sy vroeë sewentigs. Hy doen verskeie toere “van die Kunene- tot die Kongorivier.”


    “Dit gaan ‘n befokte toer wees,” belowe Oom Koos.


    Jasper Coetzee, ‘n kragman wat stut vir die Blou Bulle gespeel het, kom skud ook blad. Hy sê hy sien ons môreaand weer in Tsumeb, ons volgende afsaalplek op pad noorde toe.


    Drie spesiale gaste kom aan: Luitenant-generaal Martin Shalli, oud-PLAN (SWAPO se militêre vleuel, die Peoples’ Liberation Army of Namibia)-bevelvoerder en later hoof van die Namibiese weermag; brigadier-generaal Karel Ndjoba, stafhoof menslike hulpbronne; en kolonel Ben Khadila, bevelvoerder spesiale magte.


    Karel, wie se pa gedurende die Grensoorlog deur SWAPO vermoor is, het aan ons kant geveg. Hy praat suiwer Afrikaans en wys ons littekens wat hy gedurende die oorlog opgedoen het.
    Ek het Martin Shalli, Danger Ashipala, Ben Khadila en ander oud-PLAN-vegters ‘n jaar gelede op ‘n funksie in Windhoek, waar die 32ste herdenking van die Slag van Eheke (Onalumono) gevier is, ontmoet. Danger is intussen oorlede.


    “’n Mens veg om vriende te word,” het Martin aan my gesê.
    Martin en Danger het geglo hulle is destyds in 1977 by Onalumono (hulle praat nie van Eheke nie) deur Chileense huursoldate aangeval, totdat Rudolph Burger ‘n slag saam met my Windhoek toe is en hulle gesien het hoe lyk die “Chilene” wat hulle aangeval het.

    Maar ons het ook ons eie propaganda geglo. Ons Recces het Eheke nooit heeltemal verower en opgeruim nie en waarskynlik slegs ses PLAN-guerrillas, in plaas van “61 terroriste” waarvan ons in koerante in Suid-Afrika gelees het, gedood. Die destydse PLAN-bevelvoerder van die Mamuandi-basis, wat in Februarie 1978 deur 32 Bataljon aangeval is, het my verseker dat sover hy kan onthou hy geen verliese gely het nie. By navraag het ‘n betroubare getuie aan ons kant verklaar dat hy slegs twee lyke gesien het, terwyl koerante ons wysgemaak het “17 terroriste” is doodgeskiet.
    Dit was maar deel van die propaganda-oorlog; onderskat jou eie verliese en oorskat die vyand sin. SWAPO het dieselfde gedoen. Dit gebeur in elke oorlog. Later word die leuens feite in geskiedenisboeke; heilige koeie wat niemand durf slag nie.


    Kort voor sononder spring die twee honde, wat al die hele middag vir mekaar knor, aanmekaar. Dit is ‘n woeste geveg en daar moet hard geskree en geskop word om hulle uitmekaar te maak. Ek reken die brak het die rifrug op punte geklop.


    Almal ry die rantjie uit; net die braaiers wat by die spit agterbly. Voor ons in die verte lê Windhoek asemrowend mooi in die laaste sonstrale. Efpé stel sy kamera op en probeer ‘n paar mooi skote kry. Ons kuier saam met ou vyande soos ou vriende, staan hand-om-die-lyf en poseer vir foto’s. Dit is moeilik om te glo dat daar ‘n tyd was wat ons mekaar sou doodskiet as die geleentheid hom sou voordoen.


    Die partytjie word tot laat om die vuur voortgesit. Die musiek is hard, die vleis sag en die bier koud.
    Graham vra Ben Khadila uit oor sy opleiding in Rusland en ander Oosblok-lande. Ben vertel hoe moeilik dit vir PLAN gedurende die oorlog was om verliese af te voer. Gewondes is op donkies en bakkies gelaai. Die plaaslike bevolking het hulle in baie gevalle weggesteek. By hospitale in Owamboland is mediese voorraad gesteel wat gebruik is om gewondes te verpleeg.


    “Daar is geen oorwinnaars hier vanaand nie. Vrede is die enigste oorwinnaar,” sê Ben aan Deon Rapport.


    Roland en Thys Rall praat kopstukke oor die ou dae, terwyl die nagluggie geniepsig koud raak. Die manne verdwyn die een na die ander. Meeste rol sommer slaapsakke langs die voertuie oop. P.W. slaap op die Vistenk se dak en Krige maak hom anderkant die sloot onder ‘n boom tuis. Ek en Rudolph slaan tent op.


    Tweeuur die oggend maak Pretty Belinda my wakker, maar ek sluimer weer in. Teen dagbreek moet ek opstaan en ‘n draai stap. Pretty Belinda is tjoepstil, maar om die voertuie en daar by Krige se boom is dit ‘n ander storie. Dit klink of ‘n trop dikgevrete leeus hulle daar tuisgemaak het.

    Genl. Roland de Vries en Brig.Genl. Karel Njoba


    Johan van der Mescht, gevange geneem deur SWAPO



    'n Herontmoeting in Windhoek; Johan van der Mescht en Danger Aspila, wat hom gevange geneem het.


    https://www.facebook.com/bothmalj/po...534393980442:0

  6. #16
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    EPISODE 10: “This is your home away from home.”


    Stiptelik om 08:00 staan ons in die parkeerarea van die Heroes’ Acre net buite Windhoek, netjies uitgevat in ons enigste langbroeke. Jaap het gesê ons moenie onnodige klere inpak nie. Dit is warm.


    ‘n Swart ampsmotor hou stil. Brigadier-generaal Karel Ndjoba en kolonel Ben Khadila van die Namibiese weermag klim uit, netjies uitgedos in uniform. Hulle skud blad en staan vir foto’s saam met ons.


    Voor ons strek stelle trappe en terrasse van beton teen ‘n steil bult uit. Dit stapel op en op totdat dit uiteindelik versmelt met ‘n bronsbeeld van ‘n skoorvoetende kryger, groter as lewensgroot, wat met ‘n stokgranaat ophoog na Windhoek in die noorde aanstorm. Glory to the fallen heroes and heroines of the Motherland Namibia! Sam Nujoma, 26th August 2002, lui ‘n onderskrif – in goue letters gegiet – op die reuse-voetstuk. ‘n Betonnaald toring meters hoog die lug in oor die krygsman en die amfiteater teen die randjie af. ‘n Indrukwekkende skansmuur van koper, kromgebuig soos ‘n hand wat moet beskerm, rond die prentjie voor ons hoog bo teen die rantjie af.


    Dit is ‘n stywe stappie tot bo, maar uiteindelik staan ons voor die skansmuur. Dit beeld die bevrydingstryd uit: vanaf koloniale onderdrukking tot en met die totstandkoming van ‘n vrye, onafhanklike Namibië. Voor my geestesoog sien ek skimme van die Voortrekkermonument in Pretoria, dan weer die Vrouemonument in Bloemfontein.


    “This is your home away from home. Please come again,” sê Karel Ndjoba aan ons terwyl die skaduwee van die betonnaald links voor ons op die trappe val.


    ‘n Knop kom in my keel. In ons eie land reserveer die ANC-regering plek op monumente vir Kubane wat in Angola gesneuwel het, maar ons gestorwe makkers se name kwalifiseer nie. Hulle het meegedoen aan “misdade teen die mensdom.”


    Graham Dickson tree na vore met ‘n houtkruis waarop ons toerlede se name geskryf is. “This is in memory of everyone who perished in the war.” Die twee hoë offisiere van die Namibiese weermag neem die kruis in ontvangs. ‘n Saluut en ‘n minuut stilte vir die helde wat geval het in die stryd. Niël Terblanché van Republikein neem foto’s en skribbel vinnig in ‘n notaboekie.


    Roland vra ons aandag vir ‘n paar minute. Hy vertel van ‘n hinderlaag wat 1 SAI in 1977 iewers naby St. Mary’s Mission gelê het. Maar SWAPO se PLAN-vegters het die hinderlaag ontdek en gedurende die nag aangeval. 1 SAI het twee troepe verloor. Daar was vier gewondes. PLAN het ‘n paar lyke agtergelaat. Toe Roland twee dae later op die plek kom, is nóg twee lyke gevind. Een was die van ‘n jong PLAN-bevelvoerder. ‘n Afrikaanse woordeboek, ‘n boekie met sy troepe se name, wapennommers en ‘n netjiese balansstaat van gelde ontvang en bestee, is by die liggaam gevind.
    Roland som sy storie op: “Toe het ek besef, ons het met ‘n vyand te doen wat goed opgelei is. Dit gaan ‘n lang oorlog wees. Elke ou gaan tel.”


    Ek oorhandig ‘n eksemplaar van Buffalo Battalion – a tale of sacrifice, geteken deur ons almal, aan Frank van Zyl. “Dankie Frank. Jy het uit jou pad gegaan om ons welkom te laat voel. Die mense van Namibië is darem maar net in ‘n klas van hulle eie…”


    Ons stap teen die trappe af vir ‘n groepfoto. Jaap is aangedaan. “Hierdie raak diep. Dit bring daai emosie uit wat vir soveel jare opgekrop is. Soldate is vriende. Maak nie saak watter kleur of geur jy is nie. Dit is vir my lekker om met hierdie ouens hande te vat en ‘n pad vorentoe te stap.”





    https://www.facebook.com/bothmalj/po...891120611436:0

  7. #17
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    EPISODE 11: Die Boere wou nie Grens toe gaan nie..


    Op pad ondertoe stap ons by die grafte en gedenkstene van die helde verby. Hosea Kutako, Jacob Marenga, Hendrik Witbooi, Samuel Maharero, Ipumbu ya Shilongo…


    Ek gaan staan voor Mandume ya Ndemufayo se gedenksteen. As iemand ons tog maar net van hierdie man geleer het. Hoe verduidelik ek sy verhaal aan die ander ouens op die toer, aan duisende, miljoene mense by die huis, selfs plek-plek in Namibië, waar die Grensoorlog steeds binne die eng, politiek-korrekte raamwerk van destyds gesien word?


    Nie maklik nie.


    Die moeilikheid tussen “die Boere” (soos SWAPO ons regdeur die oorlog genoem het) en die mense van Owamboland het lank voor kommunisme en apartheid begin. Die saad van die Grensoorlog wat ons geslag van 1966 tot 1989 moes veg, was al gesaai, selfs voordat kolonel M.J. de Jager in 1917 met ‘n duisend Suid-Afrikaanse soldate na Owamboland opgeruk het om die Ovakwanyama-koning, Mandume ya Ndemufayo, te gaan doodmaak.


    Hoekom?


    Dit het gegaan oor arbeid en ‘n grenslyn wat die Duitsers en die Portugese in 1886 regdeur Owamboland, in die middel van nêrens, getrek het. Toe breek die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uit en Brittanje vra die Unie van Suid-Afrika om Suidwes-Afrika by die Duitsers te gaan roof; soos Brittanje in 1899 Transvaal en die Vrystaat by die Boere kom roof het.


    Die rede? Diamante.


    De Beers wou die piep kry toe diamante in 1908 by Lüderitzbucht ontdek is. Om hierdie rede moes die Duitsers, wat nooit ‘n bedreiging vir die Unie was nie, in Suidwes-Afrika aangeval word. Sonder om die landsburgers te raadpleeg, het die politici in die Unieparlement met 91 stemme teen 12 besluit om Suidwes-Afrika binne te val. Die stoere Boeregeneraals – De Wet, De la Rey, Maritz, Kemp en die hoof van die Unieverdedigingsmag, Christiaan Beyers – het hierteen gerebelleer.

    Hulle wou nie “grens toe” gaan nie.


    Maar die Britse bedeling waarin die Boeregeneraals hulle ná 1910 bevind het, het bepaal: The army is the servant of the state. Die Unie was nie die ou Transvaal en die Vrystaat met hulle volksleërs waar politici en die burgers skouer aan skouer op die slagveld geveg het nie; waar die kommandant-generaal die vise-president was en die krygsraad, wat deur die burgers verkies is, die kitaar geslaan het nie. Van nou af was soldaat en politikus nie meer op gelyke voet nie, maar eersgenoemde ‘n instrument in die hande van laasgenoemde. ‘n Stuk demokrasie het saam met die ou Boererepublieke in die slag gebly – tot vandag toe.


    “Jy moet kom vir die foto,” roep Jaap my.


    Toe word die 1914-Rebellie (wat niks anders as ‘n Boereopstand teen kolonialisme was nie) hardhandig deur Louis Botha en Jan Smuts onderdruk. Botha was die eerste minister en Smuts die minister van verdediging. De la Rey is per ongeluk by ‘n padblokkade doodgeskiet (baie Boere het geglo dit was opsetlik). De Wet is gevang en in die tronk gestop. Maritz het na Angola gevlug en Beyers het sy lewe in die Vaalrivier verloor toe hy moes vlug.


    Hiermee was die weg berei om Suidwes-Afrika te gaan roof. Die Uniemagte het heel eerste in Lüderitzbucht geland en beheer van die diamantvelde oorgeneem. Die Duitsers is op 9 Julie 1915 naby Otavi deur ‘n totale oormag tot oorgawe gedwing. Uiteindelik het sir Ernest Oppenheimer van Anglo American Lüderitzbucht se diamantvelde voor die neus van De Beers weggeraap.

    https://www.facebook.com/bothmalj/po...230510577497:0

  8. #18
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    EPISODE 12: Koning Mandume (en generaal Magnus Malan)


    Waar pas koning Mandume ya Ndemufayo in die prentjie?
    Owamboland was die arbeidsbron vir die myne, ook die plase en later die visfabrieke by Walvisbaai. Toe Mandume die grens wat koloniale moondhede deur sy land getrek het minag en sy mense bewapen, het hy die vloei van trekarbeiders na die myne afgesny. Owamboland, die arbeidsbron, moes ten alle koste gestabiliseer word. Daarom is kolonel De Jager en sy “dienswillige dienare van die staat” in 1916-17 gestuur om Mandume uit die weg te ruim.


    Die Owambo’s het hierdie ding nooit vergeet nie, net soos ons Boere nooit vergeet het dat die Zoeloes Piet Retief vermoor het nie. Dit is ‘n lang storie wat niks met kommunisme te doen het nie…


    Ek gaan neem my plek tussen die ander in vir die groepfoto. Terug by die voertuie vra Roland Karel Ndjoba uit oor versoening tussen soldate teenoor versoening waar politici betrokke is.


    “It is more easier for soldiers. We are ordered by the politicians who decide who should be an enemy. We have a lot in common as soldiers, regardless of which side of the fence you are.”


    Ek kyk nog ‘n laaste maal oor die indrukwekkende helde-akker. Ek het Dimo Hamaambo, een van die groot helde van die bevrydingstryd se graf gesien. Maar die volksheld Danger Ashipala wat ‘n paar maande gelede gesterf het, is bo in Owamboland begrawe. Hoekom nie tussen die ander helde nie?
    Iemand het in my oor gefluister Danger was ‘n laatkommer in die stryd – eers ná 1974 landuit gevlug. Hy het nie aan die Tanjanika-groep, wat eerste padgegee en in Tanzanië opgelei is, behoort nie. Iets soos die ANC se Robbeneiland Old Boys Club, as ek reg verstaan het?


    Die son sit al hoog. Ons skud blad met ons Namibiese vriende en klim in die voertuie. Tsumeb toe. Rondom my in die Vistenk sink die gebeure van die oggend in. Ek sit ook met my eie gedagtes. Namibië is Suid-Afrika ligjare voor wat versoening betref.
    Hoekom…?


    Koning Mandume van die Ovambos, 6 Februarie 1917, uit die weg geruim..


    https://www.facebook.com/bothmalj

  9. #19
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    'n Pos vanoggend deur Louis Bothma op sy FB blad, wat verband hou met episode 11 en 12 hierbo:

    "Gisteroggend heerlik in die veld wakker geword met rooijakkalse se getjank in my ore. Vanoggend is ek terug op my pos."
    "Gister, 9 Julie, was ook presies jaar 100 gelede dat die Uniemagte uit SA, Duits-Suidwes-Afrika verower het en die gebied die Britse Protektoraat van Suidwes-Afrika geword het. Natuurlik is dit nie in SA herdenk nie want dit wat dit voorafgegaan het (die onderdrukking van die Boereopstand 1914-15) en dit wat daarop gevolg het (die onderdrukking van die Ovambo-opstand 1916-17) en tot die (tweede) Grensoorlog 1966-89 gelei het, moes alles van ons grensoorloggenerasie weggehou word.

    Vandag is hierdie geskiedenis steeds nie politiek-korrek nie. Die morele kapitaal wat die Afrikaner in die bank het oor sy weiering om ander lande vir groot moondhede te roof en sy eie vryheidsideaal - nes die latere swart "vryheidsvegters" - na te jaag en van Suid-Afrika 'n republiek in 1961 te maak, moet doodgeswyg en misken word. Die leuen moet volgehou word dat die Afrikaner die skepper van misdade teen die mensdom was met sy apartheidsbeleid en daarom tot in lengte van dae boete moet doen - alles in die naam van "regstellende aksie" en "swart bemagtiging". Ons is ook deur historici in die steek gelaat wat bly sit het toe hulle moes opgestaan het. Dit kan egter nooit, ooit die waarheid ongedaan maak nie."



    Bothma jr. vang die son.

    https://www.facebook.com/bothmalj

  10. #20
    User
    Join Date
    Jun 2009
    Location
    Slaapstad
    Age
    55
    Posts
    1,963

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    Uitstekende reeks artikels.

Page 2 of 23 FirstFirst 1 2 3 4 12 ... LastLast

Similar Threads

  1. RIP Louis Awerbuck
    By BigT in forum General Discussion
    Replies: 15
    Last Post: 30-06-2014, 10:09
  2. Bothma!!!
    By Brett Nortje in forum General Discussion
    Replies: 1
    Last Post: 09-09-2011, 23:14
  3. Louis
    By Louis Maas in forum Introductions
    Replies: 10
    Last Post: 23-10-2010, 20:17
  4. Dir Bothma out?
    By Karel Kruger in forum Speakers Corner
    Replies: 93
    Last Post: 15-09-2009, 13:45

Posting Permissions

  • You may not post new threads
  • You may not post replies
  • You may not post attachments
  • You may not edit your posts
  •