Page 3 of 23 FirstFirst 1 2 3 4 5 13 ... LastLast
Results 21 to 30 of 224
  1. #21
    User
    Join Date
    Feb 2011
    Location
    Tauranga, New Zealand
    Posts
    1,570

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    Wow, just wow. Keep 'em coming please. Cant get enough.

  2. #22
    User
    Join Date
    Feb 2015
    Age
    43
    Posts
    58

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    Quote Originally Posted by Black-ops View Post
    Wow, just wow. Keep 'em coming please. Cant get enough.
    +1. Raak elke keer opgewonde as ek sien hier was beweging.

  3. #23
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    EPISODE 13: Moleste in die Hamburger Hoff Hotel op Otjiwarongo


    Windhoek was ‘n hoogtepunt. Kan Tsumeb beter wees? Net toe ek byna hardop wonder, sê Jaap: “Vanaand wag ‘n vars span vir ons in Tsumeb.”


    Blackie vryf sy oë. Langs my gee Rudolph ‘n lang gaap. Maar Roland is wawyd wakker. Hy was bevelvoerder van 61 Meg toe SWAPO se spesiale magte die Rooilyn in die vroeë tagtigs oorgesteek en amok in die wit boerderygebied gemaak het.
    “Dit was elke keer so April-Mei net na die reënseisoen sy hoogtepunt bereik het. Dan kom die ters in, moor en saboteer. Ons het dit die “winterspele” genoem en ters tot by Otjiwarongo geskiet. Die gebied Tsumeb-Grootfontein-Otavi het in die koerante as die Driehoek van die Dood bekend gestaan.” Roland vertel van Operasie Carrot in 1981 en Operasie Yahoo in 1982.


    “Albei was hoë-intensiteit soek-en-vernietig operasies. Ek was die bevelvoerder van die teeninsurgensie taakmag en ons was onder bevel van kolonel J.T. Louw van Sektor 30. Die debriefing van Carrot was in die Hamburger Hoff Hotel op Otjiwarongo. Ek en Thys Rall het gisteraand weer gelag oor ons feesvieringe die laaste aand, toe Cassie Schoeman die hotel met ‘n brandblusser op horings geneem het.”


    ‘n Paar manne het glo vroeg gaan slaap, onder andere Oom Lukas Nel, ‘n Tweede Wêreldoorlog-veteraan wat ook bevelvoerder van die Etosha Areamag Eenheid (Tsumeb-kommando) was. Hoe Cassie homself met ‘n brandblusser op die onderste rak van ‘n vlekvrye staaltrollie ingewurm het, is vandag nog ‘n raaisel. Maar Cassie het op alles “geskiet” wat voorgekom het. Oom Lukas het ‘n kamervenster oopgelos. Kort na middernag het hy nie wakker geword nie, maar wakker geskrik – met ‘n spierwit snor.
    “Wat maak julle blikskottels?”
    Alles was met ‘n laag wit poeier bedek. Oom Daan van der Westhuizen, ‘n bobaas spoorsnyer wat ‘n jaar later tragies sou sterf, is geroep om die spoor in Oom Lukas se kamer te kom vat.
    “Die spoor is baie warm – nie 20 sekondes oud nie. Ons kan enige oomblik kontak slaan,” het ‘n vrolike Oom Daan aangekondig.
    Maar Oom Lukas het nie gedink dit is snaaks nie. Nog minder was hy beïndruk toe Thys Rall die volgende dag R50 by hom kom kollekteer het vir die skade. Roland, wat drieuur die oggend Windhoek toe is om ‘n vlug Kaap toe te haal, moes lelik bontstaan toe kolonel Louw van die moles hoor.

    “Toe was julle seker diep in die moeilikheid?”
    “Ag, ek het Thys Rall gebel en gevra om die brandblusser te laat verbrons. Toe ek ‘n paar dae later terug in Otjiwarongo is, het ek die brandblusser aan kolonel Louw, met ‘n verskoning, oorhandig,” vertel Roland.

    https://www.facebook.com/bothmalj

  4. #24
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…



    EPISODE 14: Oom Joepie praat Engels
    Iewers anderkant die Omatako’s trek ons regs van die pad af vir ‘n vroeë middagete. Daar is brood, hardgekookte eiers, kouevleis en sap. Trokke snel verby en druk vir ons toeter. Nou eers merk ek op dat Andre Bezuidenhout steeds saam met ons is. Sou hy ons nie net tot in Windhoek gevat het en dan teruggegaan het nie?


    “Nee, ek help Oom Koos maar nog ‘n entjie verder. Wanneer kom ry jy bietjie saam met my?” vra die ou grote.
    “Maar wat van Deon Rapport? Ry hy nie saam met jou nie?”
    Deon roep my ongemerk eenkant toe: “Jy kan met die grootste plesier met my plekke ruil. Ons luister al van Pretoria af dieselfde CD’s. Daar is so een Afrikaanse CD, maar die ouens wat daar sing het elke Afrikaanse song in die boek heeltemal opgefok. Maar ou Andre laaik nou daai CD. En hy sing saam!”
    Deon pleit amper by my. Ek weet ek het Andre belowe ons gaan nog praat, maar ek geniet dit nog te veel in die Vistenk. Deon moet maar nog ‘n paar dae vasbyt.


    “Ek wens ons kan net vinnig in Otjiwarongo stop dat ek ‘n foto van die Hamburger Hoff Hotel kan neem,” sê Roland toe die Vistenk weer op volspoed is.
    Ek het intussen ‘n storie onthou wat Cassie Schoeman my van Oom Joep Joubert, destyds bevelvoerder van 1 SAI en later Sektor 10, vertel het. Nét Cassie kan dié storie vertel, maar in sy afwesigheid probeer ek my bes.
    ‘n Klomp ouens het 1 SAI toe gekom vir ‘n gunnery kursus op die Ratel. Koos “Blok” Liebenberg was die kursusleier. Die kursus het drie weke geduur. Getrou aan tradisie het die manne een Saterdagaand ‘n paar doppe in die Fontein Hotel gaan maak. Ook getrou aan tradisie het hulle moeilikheid met die sivvies (burgerlikes) opgetel en die vuiste het geklap. Die Maandagmôre was Koos Blok in Oom Joep se kantoor om te verduidelik.

    Oom Joep, toe ‘n kommandant, se hare was soos Kobus Wiese sin geskeer. Hy het Black Label gedrink, Lexington gerook en kon nie Engels praat nie. Almal was versigtig vir Oom Joep.

    “Ja Liebenberg, nou wat de fok het die naweek gebeur?” wou Oom Joep by Koos weet. Oom Joep het ‘n Lexington aangesteek en Koos het verduidelik.
    Die ou storie. Die manne het gesuip geraak en toe moer hulle die sivvies. ‘n Sekere sersant was glo die voorbok.

    “Nou wat de fok moet ék doen? Jy is mos die kursusleier. Wil jy hê ek moet hom uitkak?” Oom Joep het behaaglik aan sy Lexington gesuig.
    “Ja, kommandant.”
    Maar toe onthou Koos Blok die sersant is ‘n ex-Rhodesiër. Hy verstaan nie ‘n woord Afrikaans nie. En Koos weet Oom Joep kan nie Engels praat nie.
    “O, nou fokken sê jy my.” Oom Joep was skielik witwarm.
    “RSM, bring die etter in!” het Oom Joep in die gang af vir sammajoor Lloyd Calitz (self ‘n moelike man met ‘n reputasie wat vir niks geskrik het nie) gebulder. Oomblikke later het die sersant voor Oom Joep op aandag gestaan.
    Oom Joep se twee blou oë het vasgenael op die verskrikte kêrel.
    Doodse stilte.
    Net Oom Joep wat ‘n kort suigie aan sy Lextington vat en dit in die asbakkie langs hom neersit.

    “You!” het Oom Joep skielik losgetrek. Die Engelsman het liggies gebewe.
    “Yes, you,” het Oom Joep in ‘n laer stemtoon gesê, wat die Engelsman effens laat ontspan het.
    Maar dit was die stilte voor die storm.
    Oom Joep het sy asem ingetrek…
    En toe skree hy dat die dak lig: “Fuck you! Fokkof!”
    Die arme sersant was soos ‘n verskrikte diertjie. Oom Joep het hom nie kans gegee om tot verhaal te kom nie.
    “RSM, vat die fokker weg!”


    ‘n Verwarde Lloyd Calitz het die sersant uitgemarsjeer.
    Oom Joep het weer ‘n Lexington aangesteek, ‘n trek gevat en selfvoldaan na Koos Blok gedraai: “Nou het ek hom darem lekker uitgekak.”

    https://www.facebook.com/bothmalj/po...750797092135:0

  5. #25
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    EPISODE 15: Geskiedenis tussen Otjiwarongo en Tsumeb


    Otjiwarongo kom en gaan. Daar is nie tyd om te stop nie. ‘n Paar manne se nekke raak slap. Die min slaap in Windhoek haal ons in.
    Halfpad Otavi toe beduie Roland na blou rante in die verte: “Daar het ou Chris Roux-hulle met die vyf-vywe (G2-kanonne) in die berge in geskiet om die ters uit te jaag. Die ters het op die drade geloop. Daar was ‘n paar boere wat myne getrap het omdat hulle nie geluister het nie,” roep Roland die ou dae voor die gees.

    Hy onthou ‘n bisarre hinderlaag wat hulle tydens Operasie Carrot by ‘n stilhouplek langs die pad naby Kombat gelê het. ‘n Informant het aangebied om twee ters van Grootfontein na Windhoek met ‘n ou bruin Ford Grenada te neem. Hulle het eers fish & chips gaan koop en toe op die afgespreekte plek onder ‘n groot maroelaboom gestop om te eet. Skielik was alles helder verlig. Kolonel Foffie Badenhorst van die polisie het oor ‘n luidspreker gepraat. Nie ‘n skoot is geskiet nie. Ná oriëntasie het die twee ters die oorlog ywerig voortgesit – téén SWAPO.

    Kort duskant Otavi sien ek ‘n bordjie: Khorab. Dit moet hier iewers langs die spoorlyn wees waar Louis Botha die Duitsers onder majoor Victor Franke op 9 Julie 1915 tot oorgawe gedwing het. Die paar duisend Duitsers het geen kans gehad teen die 50 000 Unietroepe wat hulle omsingel het nie. Dit was die einde van die Duitse koloniale bewind. Voortaan sou die gebied as die Britse Protektoraat van Suidwes-Afrika bekend staan. Na die Vrede van Versailles in 1919 het die Volkerebond die gebied aan die Unie gegee om as ‘n kategorie C-mandaat te bestuur.

    Dit is die deel van die storie wat ‘n mens hier en daar in geskiedenis-boeke raaklees. Die minder mooi deel, oor die militêre operasie in 1917 om koning Mandume dood te maak sodat die arbeidspotensiaal van Owamboland vir die mynbase ontsluit kon word, het niemand van ons wat hier kom oorlog maak het, van geweet nie. Dit sou nie so lekker ingepas het by die storie dat ons “op die grens moet gaan veg om terroriste en kommuniste ver van ons ouers en meisies af te hou nie.”

    Dié deel van die 1914-Rebellie wat daarop neergekom het dat ons Boerehelde nie “grens toe” wou gaan om ‘n kolonie vir die Britse Empaaier te roof nie, het ook nie ingepas nie. Niemand het ons vertel dat Christiaan de Wet in 1914 Deuteronomium 27 vers 17 aangehaal het, toe die politici ingestem het om Suidwes-Afrika op versoek van Engeland te verower nie: Vervloek is hy wie sy naaste se grenslyn verlê; en die hele volk moet sê: Amen.

    Al wat ingepas het oor die storie van die 1914-Rebellie, was dat Jan Smuts Jopie Fourie op ‘n Sondag laat teregstel het. Die Afrikaner het ‘n martelaar gekry. En die spook van Jopie Fourie het Jan Smuts altyd agtervolg, totdat “die volk” in 1948 by die stembus van “Slim Jannie” ontslae geraak het.

    Só het die spook van Mandume ook geloop, sonder dat ons dit besef het. In ‘n dokument oor Operasie Yahoo wat Roland my gegee het, is die name van PLAN-bevelvoerders gelys wat die wit boerderygebied in 1982 binnegeval het. Onder hulle was een met die gevegsnaam “Mandume.”
    Sommer net nóg ‘n naam gewees?
    Die Owambo’s het nooit hulle martelaar vergeet nie. Mandume se spook het ons regdeur die Grensoorlog agtervolg, totdat die Owambo’s uiteindelik van die koloniale onderdrukker (soos hulle Suid-Afrika se besetting van Suidwes-Afrika gesien het) ontslae geraak het.



    Foto: Genl. Louis Botha (regs, met rug na die kamera) en die Duitse goewerneur (Seitz) en militere bevelvoerder (Franke) tydens die oorgawe van die Duitsers op 9 Julie 1915 tussen Tsumeb en Otavi. Sestig jaar later was Suid-Afrikaanse magte hier in 'n stryd met SWAPO se PLAN-vegters betrokke en het die area as "Die Driehoek van die Dood" bekend gestaan. So lê die geskiedenis laag op laag gepak.

    https://www.facebook.com/bothmalj/po...750797092135:1

  6. #26
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    EPISODE 16: Tsumeb – ons derde kampplek


    Rondom my in die Vistenk is dit stil. Die manne het uitgewerk hoe om ‘n uiltjie in die regop sitplekke te knip. Dit is toe makliker as in ‘n kerkbank. Ek staar luierig na die bosrante wat die een na die ander verbyskuif. Ons is nou in die Driehoek van die Dood. Dertig jaar gelede het hier ‘n oorlog teen kommunisme gewoed. Só is ons wysgemaak.
    Maar wat van koning Mandume ya Ndemufayo se storie? Het ons teen kommunisme geveg, of teen geskiedenis wat ons agtervolg het?


    Die Vistenk kreun teen ‘n steil bult knap duskant Tsumeb uit. ‘n Grondpad draai links weg in ‘n klofie af; Balthus Bosch se plaas, Uithoek. Ek het jare gelede ‘n paar maal op Uithoek gekuier. Balthus is ook ‘n 32 Bataljon-veteraan.
    “Blackie, hier bly Balthus Bosch.”
    “Ek het hom laas op Buffalo gesien. Kan jy hom nie bel dat hy vanaand oorkom nie,” vra Blackie opgewonde.
    Ek moet Balthus se moeder, Tannie Ina, op Hentiesbaai bel om sy telefoonnommer te kry. Minute later praat ek met Balthus.
    “Ek kan dit nie glo nie! Waar is julle? Staan vas, ek kom.”
    Ons slaan ons tente by die Dros Kampterrein op; ‘n lieflike plek met groot grasperke, ‘n swembad, skoon kleedkamers, ‘n winkel en ‘n restaurant. Jasper Coetzee het reeds braaiers en hout afgelaai. Tsumeb se mense het 61 Meg nie vergeet nie.


    Ek en Rudolph het die groot snorkers op die toer die vorige twee aande goed uitgeluister. Voordat ons afpak, kyk ons eers waar hulle tent opslaan. Roland en Jaap sien ons plan en slaan hulle tent by ons op. Nogal interessant hoe die tentmaats mekaar uitgesoek het. Die twee kunstenaars, Camille en Efpé, het mekaar gou gevind. Mike Moertoe en Deon Joubert, twee ou vriende, deel ‘n tent. Die Engelsmanne, Blackie en Dave, en Graham en John, is tentmaats. Krige en Deon Rapport deel die laaste tent wat oorgebly het. P.W. slaap op die Vistenk se dak en Oom Koos en die drywers by hulle voertuie.


    Daar is net genoeg tyd om tente op te slaan en te stort. Tsumeb se mense is lank voor sononder daar om te kuier. Ek is verras om te sien wie opdaag. Dit is twintig, dertig jaar na die oorlog. Ek verwag middeljarige mans soos ons. Maar behalwe Jasper Coetzee en Frank Bosch, is dit ooms van om en by sewentig en ouer wat uit die bakkies klim.
    My ervaring was nog altyd dat die ooms by die huis gebly en die seuns gestuur het om die oorlog op die grens te veg.
    Wat gaan hier aan…?




    'n Photograph of the legendary Oom Lukas Nel. Lukas was an exceptional soldier, who commanded the Etosha Area Force unit (similar to the commando units we had in South Africa). Deon Lamprecht also writes about Oom Lukas in his book "Tannie Pompie se Oorlog in die Driehoek van die Dood.

    https://www.facebook.com/bothmalj?fref=ts

  7. #27
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 17: Tsumeb se tawwe ooms en tannies (I) Alex Britz.


    Een na die ander hou die ooms stil; kon baie van ons se pa’s gewees het. Taai ou kêrels hierdie. Jy kan die harde klimaat van Namibië op hulle lywe sien: songelooide arms, growwe hande, groot ore, maar tog sagte gevoelvolle oë. Boere. Hulle is soos Oom Joep van 1 SAI; praat nie Engels nie. Hierdie is die ooms van Tsumeb wat saam met nat-agter-die-ore-dienspligtiges die Grensoorlog baklei het. Dit is ‘n geslag wat besig is om te groet.


    “Stil, broers, daar gaan ‘n man verby, hy groet, en dis verlaas…”


    Ek skarrel om my diktafoon te kry. Efpé stel sy kamera op. Ons moet hierdie ou ysters se herinneringe vaslê. Roland trek stoele nader. Hy gaan ons help. Hy ken elke oom by die naam, want hulle was onder sy operasionele bevel.
    Oom Alex Britz is eerste aan die beurt. Hy is duidelik ongemaklik met Efpé se kamera wat soos ‘n bazooka op hom gerig is.
    “Is oom gemaklik,” vra Efpé.
    “Ek is meer gemaklik met my bier,” antwoord Oom Alex.
    “Ek maak ‘n rolprent oor die Grensoorlog. Dit gaan oorsee uitgesaai word. Kan oom asseblief die vrae in Engels antwoord?” vra Efpé.
    My hart gee ‘n ruk. Efpé, wat de bliksem doen jy nou? Hoe kan jy dit aan hierdie ooms doen? Hulle gaan heeltemal uit hulle diepte wees. Kan jy nie maar Engelse onderskrifte vir jou film gebruik nie? Ek wonder, maar sê niks nie. Netnou wil Efpé my leer hoe om my boeke te skryf.
    Oom Alex kom bleek om die kiewe voor: “I need much more beer.”
    Roland se eerste vraag is ‘n opdrag: “Tell us about the Etosha Area Force Unit.”
    Oom Alex verbaas my nogal. Engels praat in die verlede tyd is nie jou maat nie. Dit is nie enige man wat weet waar presies om “have had” en “had had” te gebruik nie. Oom Alex konsentreer mooi. Ek hoor hy was iewers in ‘n hinderlaag en haven’t had a clue what to do…


    Toe Efpé klaar is, vra ek Oom Alex ‘n paar vrae in Afrikaans. Hy is Alexander Thompson Henry Britz – van Skotse afkoms. Hy vertel hy het in 1957 as polisieman begin, by die munisipaliteit gewerk, geboer en was al die jare lid van die Etosha-kommando gewees.
    Toe die Suid-Afrikaanse troepe in 1976 ná Operasie Savanna uit Angola teruggetrek het, moes die kommando opruimingswerk doen. “Kyk, hulle het die ammunisie mos sommer maar net in die vlakte gegooi. Daar was kaste en kaste wat jy langs die pad kon optel, soos hulle met die konvooie teruggekom het. Ons het lank daarna nog goed hier langs die pad gekry,” vertel Oom Alex.


    Maar Oom Alex was nie nét in die Tsumeb-distrik ontplooi nie. 61 Meg het hom ook saamgevat Angola toe. Hy het aan Operasie Meebos en Operasie Askari deelgeneem. Toe die chopper met die Parabats tydens Meebos afgeskiet is, was Oom Alex saam om die lyke te gaan haal. “Dit was nie ver van die Calongarivier af nie. Swart vroue het die lugafweergeskut beman waarmee die chopper afgeskiet is. Die lyke was gebooby trap. Iemand wou vorentoe hardloop, maar Roland de Vries het hom gekeer. Dit is nie mooi om daaraan terug te dink nie.”


    Oom Alex vertel van ‘n sekere Pretorius wat tydens Askari in sy arms gesterf het. “Dit was daar iewers tussen Cuvelai en die Bambi-woud by so ‘n make-shift lughawetjie. Hy het net vir my gesê: ‘Sê vir my ma ek het haar lief.’ Tot vandag toe nog bly dit voor jou.”


    “Hoe was die lewe tydens die oorlog in Tsumeb?” wil ek weet.
    “Die lewe het so normaal as moontlik aangegaan. Hier was ‘n paar ouens wat getrek het. ‘n Sekere Schutte-vrou het vir haar man gesê dit raak te gevaarlik. Toe trek hulle Republiek toe. Hulle was skaars daar, toe stuur sy hom om gordynringe te gaan koop. Toe ry ‘n kar hom dood.”
    Oom Alex teug aan sy bier: “Ja, so baie mense het weggegaan wat wil terugkom, maar hulle kan nie…”



    Foto bo: Die ooms saam met Roland de Vries



    Photo above: And the story telling and sharing of remembrances continue....the family of Daan van der Westhuizen shares their joys and sorrows of bygone days. Daan was killed in an ambush near Tsintsabis on the 15th of April 1982.

    https://www.facebook.com/bothmalj/po...810926986122:0

  8. #28
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…


    EPISODE 18: Tsumeb se tawwe ooms en tannies (II): Tannie Pompie, Reinhard Friederich en Dave Keyser


    Volgende voor die kamera is Oom Ockert Britz. Hy was destyds die stadsklerk van Tsumeb, maar ook baie nou by die kommando betrokke. Vandag boer hy net buite dorp. Hy roep die gebeure van 15 April 1982 voor die gees – ‘n datum wat in bloed geskryf is.
    ‘n Groot groep “terroriste” het die vorige dag by Tsintsabis oor die Rooilyn gekom. Die insypeling is te laat opgetel. Daan van der Westhuizen van die nabygeleë plaas Vaalwater en sy skoonseun Hendrik Potgieter, was die volgende dag in ‘n Ratel saam met troepe van 61 Meg wat gaan ondersoek instel het. Hulle het in ‘n hinderlaag beland en die Ratel is met RPG-7’s uitgeskiet. Toe slaan die Ratel aan die brand. Dit was verskriklik. Tannie Pompie, Oom Daan se vrou, was op die plaas. Sy het kalm gebly en die mense op die dorp per radio laat weet.


    Ek sit regop. Toe Efpé klaar is met sy onderhoud, vra ek Oom Ockert uit oor Tannie Pompie.
    “Sy het die radio’s beman. Sy het met almal gepraat, tot in Angola. As jy iemand nie in die hande kon kry nie, het jy vir Tannie Pompie gevra. Sy was fenomenaal. Sy het dag en nag gewerk. Dit was haar leefwyse. Dit was vir ons wonderlik om so ‘n mens te kon gehad het.”


    “Die lig word swak. Ons sal moet roer,” sê Efpé en loer bo by sy kamera in wat soos ‘n langbeenspinnekop voor Oom Dave Keyser en Reinhard Friederich staan. Albei is in 1982 gedurende Operasie Yahoo gewond.
    Oom Reinhard en sy vrou Yvonne was met vakansie in Swakopmund, toe hulle die tyding kry dat Daan van der Westhuizen en sy skoonseun dood is. Drie dae later het Oom Reinhard op Tsintsabis met sy Boesman spoorsnyers gerapporteer. Hulle is na die plaas Platsak gestuur. Die gras was hoog en Oom Reinhard het gewaarsku hulle moet baie versigtig wees.
    “My Boesman was reg agter my. Toe hoor ek net bang! Toe val ek op die grond en sien ek het ‘n groot probleem: My voet lê langs my oor. Ek het nooit my bewussyn verloor nie en my been weer in posisie probeer kry. Daar was ‘n Ratel naby. Hulle het toe ‘n chopper laat kom wat my afgevoer het na 1 Mil in Pretoria,” onthou Oom Reinhard, wat gelukkig nie sy been verloor het nie.

    Hy was saam met 17 gewondes in die hospitaal; party sonder oë, ander sonder ledemate. “To me it is more than a blessing that I can sit here and tell you the story,” sê hy op kamera.


    Oom Dave Keyser, ‘n spoorsnyer, ‘n hond en ‘n paar Parabats, is op ‘n Sondag met ‘n helikopter na die plaas Otjikotoberg gevlieg. By ‘n kraal het ‘n Boesman na hulle toe aangehardloop gekom en gewaarsku dat twee swartes so pas oor die draad gespring het.
    “Oubaas, hier is die geld vir die lemoene.” Die Boesman het geld vir ‘n sak lemoene wat twee vreemde swartes by hom gekoop het in Oom Dave se hand gestop. Die sak het ‘n gat in gehad en Oom Dave-hulle het die lemoene gevolg. Toe sien hulle ‘n plastiek waterbottel. En toe weet Oom Dave, dit is ‘n lokval.
    “Toe voel ek net iets in my rug. Ek het nooit die ontploffing gehoor nie, maar dit was skrapnel van ‘n RPG wat hulle agter my in ‘n boom vasgeskiet het. Regs voor my was ‘n Van Biljon-outjie. Hy het die ter met die Mag (masjiengeweer) platgeskiet,” vertel Oom Dave.
    Toe ‘n Puma kom om hom af te voer, het Oom Dave geskree: “Ek makeer fokkol! Hier is nog een ter!”



    Foto: Daan van der Westhuizen en sy vrou "tannie Pompie" by die Ratel waarin hy en hulle skoonseun, Hendrik Potgieter, later dood is toe hulle in 'n hinderlaag ingery het.

    https://www.facebook.com/bothmalj/po...810926986122:1

  9. #29
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    EPISODE 19: Tsumeb se tawwe ooms en tannies (III): Lukas Nel.


    Dit was tawwe ooms en tannies hierdie.
    ‘n Vergeelde knipsel uit die Otjikoto Journal beland in my hande. Dit vertel die storie van Oom Louis Fourie van die plaas Ruimte en korporaal Bester van Kemptonpark wat in ‘n hinderlaag doodgeskiet is. By die opstal het Tannie Sientjie kopgehou en die “terroriste” teruggeskiet. Haar kleinkinders het later 47 doppies opgetel soos ouma geskiet het.


    Teen die tyd dat Oom Lukas Nel by ons aansluit, is die lig te swak vir Efpé om verder te verfilm. Almal dra stoele nader. Ons kuier in ‘n kring saam met Oom Lukas. Hy vertel van die moles met die brandblusser in die hotel op Otjiwarongo, ná Operasie Yahoo. Ons lag van voor af. “Daar het net een ter weggekom met daai infiltrasie,” onthou Oom Reinhard.


    Roland kan steeds nie sy opgewondenheid inhou nie. “Bliksem, dis lekker om julle te sien. Het julle bier? Wat het geword van die ou Duitsers wat hier was? Uli Hasse, Horst Korner, Rommel se drywer…?”
    “Almal is dood. Nét Rommel se drywer lewe nog – Von Leipzig. Hy is nog steeds op die plaas,” sê Oom Reinhard.


    Iemand laat val van die Vergenoeg-insident. Ek wil daarvan hoor.
    Oom Dave was daar. Dit was tydens Operasie Phoenix, op 6 Maart 1983. Die plaas Vergenoeg is teenaan die Etoshapan. Dit is ‘n gasteplaas en daar was destyds buitelandse besoekers toe SWAPO-insypelaars toegeslaan het. Twee dienspligtiges moes die plaas oppas, maar om een of ander rede was hulle in ‘n geboutjie buite die veiligheidsheining. Die twee soldate, C.F. Bezuidenhout en J. Bosse, was in PT-broeke met hulle gewere eenkant, besig om kaart te speel, toe die ters blykbaar om die hoek van die gebou gekom en hulle koelbloedig doodgeskiet het. Tydens die opvolgoperasie het ‘n spoorsnyer ‘n Pom-Z afgetrap en hom doodgebloei. Oom Dave-hulle moes op Otjiwarongo aan generaal Charles Lloyd van die Suidwes-Afrika Gebiedsmag gaan verduidelik oor die insident.


    Roland wil hê Oom Lukas moet sy herinneringe van die Tweede Wêreldoorlog met ons deel. “Vertel van El Alamein,” por hy die 89-jarige Oom Lukas aan.
    “Hierdie grappies wat ons hier gehad het was sommer ‘n naweekpiekniek. By Alamein het amper 500 000 man teen mekaar geveg. Die artillerie het wiel aan wiel gestaan, drie myl ver. Hulle het tienuur die aand begin en só vreeslik geskiet, jy kon koerant lees…”

    https://www.facebook.com/bothmalj

  10. #30
    User
    Join Date
    Nov 2010
    Age
    53
    Posts
    897

    Default Re: Anderkant Cuito - 'n Reisverhaal van die Grensoorlog - Louis Bothma

    ANDERKANT CUITO – ‘n Reisverhaal van die Grensoorlog
    Ry elke dag ‘n entjie saam…

    EPISODE 20: “Oor wat alles? Oor wat…?”


    Balthus roep my. “Kom ons gaan drink ‘n rum en Coke in die Dros.” Dave, Mike, Blackie, die twee Burgers en die twee Deons (Joubert en Rapport) staan reg om saam te gaan.
    “Gaan solank, ek kom.” Rum en Coke is nie juis my drank nie, maar ter wille van Balthus stem ek in. Dit raak laat en ek wil nog Tsumeb se ooms ‘n laaste vraag vra.


    “Hoe voel Oom nou na al die jare oor die oorlog?”
    “Baie mense in Namibië vra, kan ons nie maar sonder hierdie oorlog gegaan het nie,” sê Oom Reinhard, met sy seun Rudolph trots langs hom.
    “Ek is ‘n gelowige. Ek glo die onafhanklikheid van Namibië was op die regte oomblik as gevolg van hierdie oorlog. Die val van die Berlynse Muur is deur niemand voorsien nie. Die kommuniste was bankkrot. Hulle moes hulle denke verander na demokrasie en kapitalisme. As ons aan kommunisme oorgegee het, sou ek nie ophou veg het nie,” sê Oom Reinhard met beslistheid.
    “Vandag is daar die gevaar van kriminele. Hulle teiken ons oumense,” sê Oom Dave tussendeur.
    “Of die oorlog nodig was, kan ek nie vir jou ja of nee sê nie,” antwoord Oom Ockert. Hy skuif hom reg op sy stoel. “Maar ons het baie geleer en na die oorlog vriende gemaak – wit en swart. Ons gaan vorentoe. Namibië is een van die beste lande in die wêreld om in te lewe.”


    Oom Ockert dink diep: “61 Meg was ‘n geweldige ekonomiese inspuiting vir ons dorp. Mense het hier kom eet en koop. En jy verlang terug na die ou dae – die kameraadskap, die vriende en kontakte wat jy opgebou het.”


    Dit raak laat. Die ooms begin groet; moet nog uitry na hulle plase toe.
    Oom Alex staar voor hom in die grond. “Toe julle nou hier weg is, het ‘n ou baie keer vir jouself gevra: Oor wat alles? Oor wat…?”






    https://www.facebook.com/bothmalj

Page 3 of 23 FirstFirst 1 2 3 4 5 13 ... LastLast

Similar Threads

  1. RIP Louis Awerbuck
    By BigT in forum General Discussion
    Replies: 15
    Last Post: 30-06-2014, 10:09
  2. Bothma!!!
    By Brett Nortje in forum General Discussion
    Replies: 1
    Last Post: 09-09-2011, 23:14
  3. Louis
    By Louis Maas in forum Introductions
    Replies: 10
    Last Post: 23-10-2010, 20:17
  4. Dir Bothma out?
    By Karel Kruger in forum Speakers Corner
    Replies: 93
    Last Post: 15-09-2009, 13:45

Posting Permissions

  • You may not post new threads
  • You may not post replies
  • You may not post attachments
  • You may not edit your posts
  •